DIE Hoërskool Stellenberg se o.19-krieketspan het verlede week as die kampioen uit die stryd getree tydens die jaarlikse toernooi van die Landbouskool Weston in Mooirivier (KwaZulu-Natal).
Die eerste spanne van die hoërskole Bellville, Brackenfell en Tygerberg het ook goed vertoon tydens Die Burger-toernooi in die Suid-Kaap.
Nadat Stellenberg weghol-oorwinnings in sy eerste drie wedstryde behaal het, het hy in die eindstryd sy mede- Kaapse span Bergvliet (165/8 in 50 bbe.) met drie lopies geklop. Erhard Louw (77, nun) en Duan Cronje (4/29) was die Stellies (168/7) se uitblinkers.
Vroeër het Stellenberg die spanne van Northcliff (Johannesburg) en Weston albei met 7 paaltjies verslaan. Teen Northcliff was Japie Venter (40) en Marco van Rensburg (4/19) die staatmakers.
In die derde wedstryd is Heron Bridge (Johannesburg) met 243 lopies afgeransel met puik bydraes deur Rudolf Cronje (96) en Van Rensburg (7/12).
By die Suid-Kaapse toernooi het die HS Bellville sy twee wedstryde, wat deur die reënweer toegelaat is, gewen.
Die HS Punt (195) is met vier paaltjies geklop danksy Juan Phillips, Michael Loubser (albei 4/51), Werner Avenant (54) en Michael de Kock (52). Teen HS Despatch (123) het Bellville met 5 paaltjies gewen na uitstekende bydraes deur Francois Carstens (6/34) en Loubser (60).
Nadat Brackenfell in sy eerste wedstryd teen die HS Oudtshoorn vasgeval het, het hy op dag twee die Landbouskool Winterberg (114) ’n loesing van 96 lopies toegedien. Raymond Olivier (66), Werner Human (4/12) en Cameron Schrikker (35 en 3/19) het die sege moontlik gemaak. Hoewel die Brakke-sege 117/9 (in ’n 20/20-wedstryd) teen die HS Punt nie na ’n wentelling gelyk het nie, het die Brackenfell-boulers die tuisspan vir net 47 lopies uitgeknikker en met 70 lopies gewen.
Die HS Tygerberg (129) het weggespring met ’n oorwinning van 32 lopies oor die HS Outeniqua (97) na veral knap kolfwerk deur Martin Campbell (55). Maar teen die HS Brandwag (Uitenhage) het die Tiere behoorlik op hul baadjie gekry ondanks goeie boulwerk deur Dean van Zyl (5/42).
Die Landbouskool Winterberg is op dag drie vir net 71 lopies uitgeboender deur Tiaan van Deventer (3/3) en sy makkers om Tygerberg met 4 paaltjies te laat wen.
Die HS D.F. Malan het in sy eerste twee wedstryde die kous oor die kop gekry. Die HS Brandwag het maklik met die Bellvilliete afgereken (ten spyte van goeie boulwerk deur Johan Louw 5/31) waarna D.F. Malan ook nie teen Despatch die mas kon opkom nie. In ’n 20/20-wedstryd het DFM (94) egter met 9 lopies teen HS Oudtshoorn gewen danksy veral V. Muller (46) se kolfwerk.