ELZABÉ ZIETSMAN loop met ’n kruk.
Daar was tydens huisverbouings ’n onderonsie met ’n muur wat haar hinkepink gelaat het, vertel sy. Dis maar een gebeurtenis in haar “doodgewone” lewe.
Dan begin Elzabé al singende vertel: met humor, deernis en skrikwekkende eerlikheid plaas sy die doodgewone lewens van alledaagse mense onder die vergrootglas. Ook later – nugter eerlik – haar eie.
Daar is die vrou wat weens haar man se groeiende liefde vir haar – en sy gul sjokolade-gee hand – in ’n versterkte dubbelbed slaap, die orgidie-kweker wat smag na ’n “Jakob Regop” om in haar eensame voortuin te kom groei ...
Humor in hartseerverhale, maar ook die triomf van ’n vrou wat haar rug op ’n vroueslaner draai en sê: Dankie dat jy my geleer het wat die liefde nié is nie.
Die musiekteaterproduksie Agter Glas laat lag, maar laat die toehoorder ook met ’n ongemaklike vraag: wat sal ander sien as jóú lewe skielik agter glas uitgestal word, vir almal om glashelder te sien wat dikwels agter mure verborge is.
Agter Glas is Saterdag met groot toejuiging by Cultivaria gewaardeer en is by vanjaar se KKNK met ’n Kanna-toekenning bekroon. Dié produksie hinkepink nie sukkelend voort op ’n kruk nie. Dis ’n musikale móét sien.
Elzabé Zietsman en Janine Neethling (op klavier) is op 8 en 9 Oktober om 20:30 by Die Boer met die vertoning Agter Glas. Koste: R90. Bespreek: 021 979 1911.