Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
Error processing SSI file
 

Weer
Aktueel
Sport
Vermaak
Artikels
Menings
  • Resepte
  • Kommentaar
  • Briewe
  • Rubrieke
  • Dagboek
    Motors
    Eiendomme
    News24
    Die Burger
    Argief
    MetroBurger
    Sakenuus
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    08/10/2008 01:09 PM - (SA)
    ‘Mnr. Goodwood’ woeker steeds
    ANNEKE SMIT


    NIE baie mense kan sê dat hulle vir 42 jaar lank hul werk geniet het nie, maar mnr. Louwtjie Rothman (75) is een van hulle.

    Op 7 September 1966 het hy op 33-jarige ouderdom ’n stadsraadslid geword en op 37-jarige ouderdom word hy die jongste burgemeester wat Goodwood nog gehad het.

    Hy het vir 42 jaar in die stadsraad gedien en tree vandeesmaand uit nadat hy vele ampte beklee het, onder meer voorsitter van die subraad Tygerberg.

    Ons sit in sy kantoor by Rothmans Skooldrag in Goodwood en hy sê entoesiasties: ‘‘Elke faset van my openbare lewe was vir my ’n belewenis”.

    Sy kantoormure is van hoek tot kant bedek met geraamde herinneringe: foto’s van spesiale geleenthede, familiefoto’s, prestasies en toekennings.

    Tydens die oproep waarin ons die onderhoud gerëel het, was daar sprake van ’n Rothman-museum en toe ek navraag doen, glimlag hy breed terwyl hy sy hand teatraal deur die lug swaai: “Hierdie ís my museum”.

    Hy kry ’n veraf kyk in sy oë op my vraag oor hoe hy nou eintlik besluit het dat hy burgemeester wil word. Ná ’n ruk vertel hy dat hy as kind gesien het hoe die burgemeester daardie tyd sy pa sleg behandel en hy op die daad besluit het dat hy eendag ’n toeganklike, diensbare en vriendelike burgemeester gaan wees.

    Sy lewensleuse dat hy dit wat hy moet doen, dadelik doen, het beslis ’n invloed gehad op sy sukses en hy stel dit so: “As ek uitstel en uitstel en uitstel, is die moeite steeds presies dieselfde, maar die verskil is, dan is ’n klomp mense die hel in vir my! So, ek handel dinge so gou as moontlik af.”

    Kort-kort bel hy iemand, maar dit lui net aanhoudend aan die ander kant en hy sê verontwaardig: “Weet jy, destyds toe Helen Zille nog die minister van onderwys was, het sy die wonderlikste leuse gehad: as sy hoor daar lui ’n foon meer as twee keer, gaan kyk sy of die betrokke persoon by sy/haar lessenaar is, want afwesigheid was die enigste aanvaarbare verskoning.”

    Hy is lief vir gesels en vat ’n Kaapse draai met sy vertellings oor hoe die suidelike voorstede nie groot genoeg was om elk ’n munisipaliteit te bedryf nie en hoe hy begin het met ’n salaris van R15 per maand. As burgemeester het hy R62,50 gekry.

    “Dit was nooit oor die geld nie, maar oor die eer om die gemeenskap te verteenwoordig en te dien.” Toe hy ’n raadslid word, het hy ’n voorwaarde aan alle amptenare van Goodwood, hetsy vir die brandweer, polisie, stadsraad ensovoorts, gestel: almal moes in Goodwood woon, anders kry hulle nie subsidies vir behuising nie. Sodoende ry hulle oop oë deur die dorp en lewer beter diens deur dinge dádelik reg te maak, verseker hy my. Hy roep sy regterhand, mev. Francois, om vir hom ’n afskrif van sy CV te kom maak en ek let op dat sy rekenaar afgeskakel is.

    “Ek weier om te leer hoe om met ’n rekenaar te werk. Ek háát ’n rekenaar. Mevrou Francois druk al my e-posse vir my uit en sit dit in my posbus,” sê hy gelate en staan net daar op en nooi my om na sy huis te gaan kyk.

    Dis reg agter die winkel geleë en in die gesellige kombuis vind ons sy vrou, Stella, besig om koffie te maak. “Nee, wag, kom ek gaan wys jou my supermarkte, dan drink ons ietsie na die tyd, ’’ nooi hy en voor ek my kry, is ons in sy Mercedes en op pad.

    Al drie supermarkte is superskoon, super-netjies en super-sekerheid is orals opgestel. “Ek het al 40 jaar gelede ’n eiendomsmaatskappy ook begin, hoor, ek sal nooit aftree nie, ek tree net uit die stadsraad uit,’’ lag hy.

    Rothman het al talle toekennings ontvang vir sy puik diens aan die gemeenskap en was al die voorsitter van ’n menigte rade en verenigings, maar hy stel dit duidelik “ ’n mens is tog net so sterk soos jou span”.

    Terug by sy huis hoor ek oor ’n heerlike koppie koffie van die egpaar se talle reise oorsee en ek kan sien dat sy hom 100% ondersteun.

    Op my vraag of hy enige hoogtepunte van sy loopbaan wil uitlig, laat hy hoor: “Ek geniet regtig wat ek gedoen het en ek sal alles weer dieselfde doen, ook weer met dieselfde vrou trou!”

    Hy stap saam met my na my motor toe en trap-trap op die sypaadjie wat deur ’n groot boom se wortels opgedruk word.

    “Kyk, hieraan moet ek iets doen, dit lyk nie goed nie”, peins hy en groet my met ’n stewige handdruk.




    Back to top     Na bo

    © 2001 TygerBurger - alle regte voorbehou.