TERWYL Brackenfell se senior krieketspan verlede week in Johannesburg skitterend vertoon het tydens die nasionale klubkampioenskapstoernooi, was die span van die Universiteit Wes-Kaapland weer teleurstellend.
Die Brakke, wat vier van hul vyf wedstryde meestal met groot gemak gewen het, word in sommige kringe as die beste span by die toernooi beskou. Brackenfell is egter nie as die wenner van sy afdeling aangewys nie en was dus nie in die eindstryd betrokke nie. Hy het sleg verloor in sy eerste wedstryd teen die verdedigende kampioen, die Universiteit van Johannesburg, wat (met behulp van die Gautengse vroeë somer) al ’n maand se liga-krieket agter die blad gehad het.Teen Oos-Londen Polisie (203) het die Brakke (301/6 in toegelate 50 boul beurte) met 98 lopies geseëvier danksy die puik bydraes van Wimpie Louw (94), Willem du Toit (65, nun), Wiaan Smit (64) en Jaco Mong (4/35). Op dag drie is Berea Rovers (269/6), die Natalse kampioenspan, met 6 paaltjies deur die Brakke (270/4) afgeransel ná uitstekende kolfwerk deur Louw (120) en Gerhard Strydom (61).
’n Goeie spanpoging het Brackenfell (190/7) hierna met 3 paaltjies teen die Universiteit Wes-Kaapland laat wen, waarna Brackenfell (203/3) ook Oud-Grey (202/9), die Oos-Kaapse kampioen, ’n loesing met 7 paaltjies toegedien het. Andre de Lange (84, nun) en Louw (51) was in hierdie wedstryd die uitblinkers.
Ondanks herhaalde versoeke aan die bestuur van die Universiteit van Wes-Kaapland se span, is geen besonderhede van die WP se kampioenspan by die toernooi ontvang nie. Blykbaar kon UWK net in twee van sy vyf wedstryde aan die wenkant eindig.
Klubkrieket in die Wes-Kaap begin op 11 Oktober.