Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Weer
Aktueel
Sport
Vermaak
Artikels
Menings
  • Resepte
  • Kommentaar
  • Briewe
  • Rubrieke
  • Dagboek
    Motors
    Eiendomme
    News24
    Die Burger
    Argief
    MetroBurger
    Sakenuus
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    01/10/2008 11:31 AM - (SA)
    Bouwerk aan skaatspark gestaak
    CECILA HUME


    BOUWERK aan ’n skaatspark in ’n openbare park in Proteahoogte gaan nie voortgesit word nie ná teenkanting deur die plaaslike gemeenskap.

    Die skaatspark moet nou elders gebou word nadat daar Saterdag op ’n openbare vergadering besluit is om nie met die konstruksie van die skaats?park in die openbare park op die hoek van Jakaranda- en van Riebeeckstraat voort te gaan nie.

    Daar is glo met die konstruksie van die skaatspark in dié openbare park begin sonder om die inwoners in die omgewing van die park vooraf te raadpleeg.

    Volgens me. Marian Nieuwoudt, die wyksraadslid aan die stuur van die projek en burgermeesterskommiteelid van beplanning en omgewingsake, het die Stad Kaapstad se parke-afdeling bouwerk onmiddellik gestaak ná negatiewe terugvoer van die plaaslike inwoners.

    “Hulle het begin met die ontwikkeling, maar het toe gestop weens die klagtes,” het sy gesê.

    Mnr. Hannes Mostert, een van die inwoners wat gekant is teen die bou van ’n skaatspark in die openbare park oorkant sy huis, het gesê die regte prosedure is nie gevolg nie. “Hulle het summier begin bou sonder om ons in kennis te stel.”

    Volgens hom is die inwoners in die omgewing van die park nie vooraf geraadpleeg nie. Hy het gesê daar is ook nie ’n openbare vergadering gehou voordat daar met die bouwerk begin is nie.

    “Ons is sterk gekant teen die manier waarop dié saak op ons afgedwing is en ons sal geen ander besluit as die staking van die projek aanvaar nie,” lees ’n e-pos wat Mostert aan Nieuwoudt gestuur het.

    Die e-pos, waarvan ’n kopie aan TygerBurger gestuur is, lees verder, “ons vertrou dat die projek dadelik gekanselleer sal word of dat die konstruksie van die skaatspark sal plaasvind op ’n meer geskikte gebied soos die sportterrein, die ongebruikte munisipale grond by die verkeersdepartement of by die park langs jou eiendom waar jy ’n ogie oor die aktiwiteite kan hou.”

    Volgens Nieuwoudt is die skaats?park ’n projek waaraan sy reeds die afgelope twee jaar woeker. “Soos die situasie nou is, is daar geen fasiliteite vir die jong mense nie, gevolglik speel hulle krieket en bal in die straat en ry ook skaatsplank daar. Ek wil graag iets positiefs vir die gemeenskap doen.

    “Parke is algemeen daargestel vir kinders. En saam met kinders is daar logies ietwat van ’n geraas. Sekerlik moet jy dan daarvan bewus wees as jy ’n huis langs ’n openbare park koop, daar sal kinders speel,” het sy verlede week gesê.

    Nieuwoudt het intussen Saterdag ’n openbare vergadering gehou waartydens die gemeenskap kans gegee is om hul mening te lug. Kinders met skaatsplanke en rollemskaatse het ook tydens die vergadering ’n paar toertjies uitgehaal om die idee aan die publiek te verkoop.

    Volgens Nieuwoudt is ooreengestem dat dié fasiliteit noodsaaklik is vir die gemeenskap. “Ons gaan dit nou ’n gemeenskapspoging maak,” het sy gesê.

    Daar is egter besluit dat ’n ander perseel vir die skaatspark gevind moet word sodat die omliggende inwoners wat teen die skaatspark gekant is, se gesindheid dit nie vir die kinders onaangenaam maak nie.

    Volgens Nieuwoudt is alternatiewe persele in Proteahoogte wat geskik sal wees vir die skaatspark reeds geïdentifiseer. Sy het gesê die omliggende inwoners sal vooraf geraadpleeg word.




    Back to top     Na bo

    © 2001 TygerBurger - alle regte voorbehou.