Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

TygerBurger
Weer
Aktueel
Sport
Vermaak
Artikels
Menings
  • Resepte
  • Kommentaar
  • Briewe
  • Rubrieke
  • Dagboek
    Motors
    Eiendomme
    News24
    Die Burger
    Argief
    MetroBurger
    Sakenuus
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    23/07/2008 01:00 PM - (SA)
    Dwelms lei tot ernstige misdaad
    CECILIA HUME


    DWELMMISBRUIK lei tot ’n toename in ekonomiese en geweldsmisdaad.

    Só meen kapt. Gerhard Niemand, woordvoerder van die Kraaifontein-polisie, na aanleiding van dié polisiekantoor se misdaadstatistieke wat verlede Donderdagaand aan die plaaslike gemeenskap bekend gemaak is.

    Dwelmverwante misdaad, volgens statistieke die derde grootste misdryf in Kraaifontein, het die afgelope vyf jaar skerp gestyg. Slegs 77 is tussen April 2002 en Maart 2003 aangemeld terwyl ’n totaal van 726 volgens die nuutste statistieke tussen April 2007 en Maart 2008 aangemeld is.

    Niemand het gesê dié styging is nie noodwendig negatief nie.

    “Dit dui daarop dat Kraaifontein se polisiebeamptes hul werk doen en meer mense wat dwelms in hul besit het of onder die invloed op straat verkeer, in hegtenis neem.”

    Hy het verder gesê dwelmverwante misdaad lewer ’n groot bydrae tot die Kraaifontein-polisie se ander misdaadsyfers, waarvan diefstal (1 403 sake) en huisbrake (908 sake) tans die hoogste is.

    “Werkloosheid, armoede en die stygende elektrisiteit-, petrol- en kospryse speel ’n groot rol, maar dwelmverslaafdes het ook geld nodig om hul dwelmlus te bevredig. Dit lei tot diefstalle en inbrake.

    “Mense onder die invloed van drank of dwelms raak ook maklik die slagoffers van geweldsmisdade of is in baie gevalle die aggressor,” het Niemand gesê.

    Dir. Moses Memela, bevelvoerder van die Kraaifontein-polisie, het gedurende die gemeenkapsvergadering verlede Donderdagaand gesê drank en dwelmmisbruik is betrokke by die meeste van die verkragtings wat aangemeld word.

    Memela het op die vergadering uitgebrei oor van die probleemmisdade in die gebied, onder meer die 118 moorde wat tussen April 2007 en Maart 2008 gepleeg is – vyf meer as die vorige jaar. Die Kraaifontein-polisie het tans die vyfde hoogste moordsyfer in die Wes-Kaap.

    Volgens Memela het taxi-geweld in die gebied tot die moordsyfer bygedra. Elf mense het in voorvalle wat met taxi-geweld verbind word gesterf. Dit is twee keer meer as die toename in dié polisiekantoor se moordstatistieke.

    Altesaam 73 mense is in verband met die 118 moorde in hegtenis geneem en vier is reeds in die hof skuldig bevind.

    Memela het gesê die meeste van die moorde en ook verkragtings vind oor naweke plaas en die meeste van die slagoffers is in hul 20’s of 30’s.

    Hy het die taakspan wat inbrake ondersoek geprys vir hul bydrae tot afname in huisbrake in die gebied. Huisbrake in Kraaifontein het met ’n totaal van 98 afgeneem (van 605 tot 507). Dit is die laagste huisbraaksyfer sedert 2004 vir dié gebied.

    Memela het verder ’n beroep op die gemeenskap gedoen om in hul onderskeie woonbuurte te help met die geveg teen misdaad. Buurtwagte wat aktief teen misdaad werk, reserviste en veral die inwoners wat daagliks ’n ogie oor hul bure hou, is vir hul bydrae geprys.




    Back to top     Na bo

    © 2001 TygerBurger - alle regte voorbehou.