Na 'n week van intense spanning en onderhandelinge het Overberg Toerisme en die Overberg distriksmunisipaliteit (ODM) 'n diensooreenkoms gesluit wat daartoe bygedra het dat die toe-rismeorganisasie nie onmiddellik sy deure hoef te sluit nie.
'n Bedrag van R300 000 wat slegs 'n gedeelte van die R600 000 is wat vir Overberg Toerisme geoormerk is in die aanvanklike begroting van R1,2 miljoen is aan die organisasie betaal om te help om onmiddellike verpligtinge na te kom.
'n Bietjie meer as 'n week gelede het Overberg Toerisme nie geweet hoe hulle hul werknemers se salarisse gaan betaal nie nadat hulle in April per brief laat weet is dat die ODM alle befondsing van die organisasie gaan staak as gevolg van ouditnavrae en dat 'n seksie 78-ondersoek ingestel gaan word om 'n streekstoerisme-model vir die Overberg daar te stel.
Gedurende 'n noodvergadering op 20 Junie tussen die Wes-Kaapse minister van finansies en toerisme Lynne Browne, die burgemeester van die ODM, Maurencia Gillion asook amptenare van die ODM en verteenwoordigers van Overberg Toerisme is indringend gekyk na uitstaande probleme. Op die vergadering het Browne Gillion versoek om 'n tussentydse plan op te stel wat 'n bepaling insluit om Overberg Toerisme met uitstaande befondsing te help. Gedurende 'n spesiale raadsvergadering van die ODM verlede Woensdag is besluit om 'n bedrag van R300 000 aan Overberg Toerisme uit te betaal sodra 'n diensooreenkoms tussen die partye opgestel en onderteken is.
Butler bedank
Op die vergadering het die waarnemende munisipale bestuurder Roland Butler ook aangekondig dat hy gaan bedank as munisipale bestuurder om al sy aandag aan die finansiële aangeleenthede van die ODM te wy.
GW Hermanus is in sy plek as waarnemende munisipale bestuurder aangestel.
Butler het aan Overberg Venster gesê hy hoop om steeds 'n rol te vervul in die opstel van 'n nuwe toerismemodel.
Die ODM en Overberg Toerisme gaan nou saamwerk om 'n strategiese toekomsplan op te stel met spesifieke fokus op die ontwikkeling en opheffing van vorige benadeelde persone asook ontluikende entrepreneurs in the toerismeveld.
Die integrasie van Overberg Toerisme, 'n art. 21 maatskappy, by die ODM sal ook onder die loep kom gedurende die samesprekings in die volgende paar maande.
In haar reaksie op die verwikkelinge het Browne gesê: Toerisme is so 'n belangrike ekonomiese sektor, ons moet hard werk aan openhartige kommunikasie tussen alle belanghebbende partye aangesien die sukses van die toerismebedryf in almal se belang is.
Die bestuurder van Overberg Toerisme, Lizette Kok het gesê dat sy baie gelukkig is met die uitslag van die samesprekings tot dusver en Gillion bedank dat sy die proses gefasiliteer het.
Sy het ook aangedui dat Overberg Toerisme saam met alle rolspelers en belangegroepe wil werk om die sukses van toerisme in die Overberg te verseker.
Kok het gesê dat 'n toerismewerkswinkel later vandeesmaand gehou sal word om die proses ver-der te fasiliteer en rolspelers deelname in die formulering van 'n toekomsplan te verseker.