'n Welbekende oud-inwoner van Hermanus, Wessel Groenewald, is skielik Vrydag, 29 Augustus oorlede. Hy was 77.
Hy is op 2 April 1931 in Hermanus gebore, waar hy ook groot geword en skool gegaan het. As jong man het hy op geboue begin werk. Wessel en sy broer Nicky, was wel bekende bouers op Hermanus en het regoor Hermanus baie huise gebou. In 1971 het hy die plaas tussen Stanford en Gansbaai, Waterkop, gekoop. Daar het hy geboer tot 1978. Hy het ook 'n melkboerdery gehad op die plaas Tierfontein, Baardskeerdersbos, waar hy geboer het vanaf 1986 tot 1994. Hy het toe weer teruggekeer Hermanus toe waar hy afgetree het.
Wessel het baie graag getoer en sy gunsteling kanaal op die DSTV skottel was die Travel Channel. Hy was baie lief om bekendes op te soek en het dan altyd oor die ou dae gesels. Waar hy tussen mense beweeg het, het hy altyd almal bemoedig en was baie lief om uit die Bybel te praat. Hy was ook een van die stigterslede van die PPK gemeente op Hermanus in 1973.
Wessel laat sy vrou, Bettie, met wie hy 52 jaar getroud was, twee seuns, Riaan en Johan en dogters, Alida Murray en Sarah Grobbelaar, asook nege kleinkinders agter. Sy skoondogters, Elmien en Petro, asook skoonseun Southey Grobbelaar en al die kleinkinders en familie sal hom baie mis. Sy mooi voorbeeld en goeie gesindheid wat hy uitgeleef het, sal altyd onthou word. Hy het altyd gesê: Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins. Die begrafnisdiens sal op Vrydag, 5 September om 15:00 te Lewende Water Gemeente, Hoofweg 51, plaasvind.