Die kuns van modelskepe bou is een wat minder prominent geword het met die aanvang van die moderne tegnologie. Daar is egter steeds 'n paar mense wat hierdie fyn kuns nog beoefen en Harold Jones van Fisherhaven is een van hulle.
Jones, 'n afgetreede lid van die Suid-Afrikaanse vloot, het sy hele lewe lank al 'n passie vir die see en veral skepe. Met sy aftrede 18 jaar gelede het hy besluit om vir homself en sy vrou 'n huis in Fisherhaven te bou. Dit het hy gedoen met sy eie twee hande - hy het elke plank self aanmekaar getimmer en omtrent alles wat in hulle huis staan, is deur hom gemaak.
Ongeveer tien jaar terug het hy 'n stokperdjie begin soek. Sy liefde vir die legendariese skepe van die see het daartoe gelei dat hy besluit het om modelle van die werklikes te bou. Waar sommige mense met 'n handleiding en voorsiende materiaal werk, bou Jones elke skip uit sy eie materiaal. Hy sit ook ure se navorsing in om te verseker dat die skepe almal lewensgetrou is.
Op die oomblik het hy drie volledige modelle, insluitend een van die Endeavour, waarmee Kaptein Cook sy avonture afgelê het. Elke skip word volgens 'n skaal van 64:1 gebou. Jones hou homself ook nie net by skepe nie, maar maak ook modelle van waens en klein bronsvoorwerpe soos kanonne. Dit is duidelik dat Jones sy passie vir skepe deur hierdie stokperdjie uitleef, en elke skip is 'n meesterstuk in eie reg. Elkeen getuig van die ure se konsentrasie en metodiese werk wat ingesit is met die skeppingsproses.
Jones vertel dat elke skip vir hom soos 'n kind is, en dat dit hartseer is om hulle te verkoop. Hy maak graag items of skepe op aanvraag en enigiemand wat belang sou stel, is welkom om hom te kontak. Sodoende kry mens 'n klein deel van die wêreld se geskiedenis om vir altyd vas te hou.