Kunsliefhebbers kan vanjaar vir die eerste keer op 'n ontdekkingsreis deur die kunsmekka van die Wes-Kaap, Hermanus, se talle spogkunsgalerye gaan besoek wanneer hulle die kunsroete aanpak wat op die Hermanus Times Kalfiefees bekendgestel word.
Spesiale aanbiedings word gedurende die Kalfiefees by 'n paar van die galerye aangebied. By die Abalone Galery word tekeninge deur Judith Mason en Elzaby Laubscher uitgestal, die Walker Bay Galery stal werke van Aviva Maree uit en Overberg Art het 'n uitstalling van kleiner formaat kunswerke deur verskillende plaaslike kunstenaars. 'n Kleurvolle brosjure is gepubliseer waarin inligting verstrek word oor nie minder nie as 18 kunslokale in Onrus, Sandbaai en Hermanus wat feesgangers tussen vertonings kan besoek.
Daar is ook 'n kaart wat aandui presies waar elke lokaal geleë is.
Brosjures is verkrygbaar by die Kalfiefeeskantoor by die De Wetsaal in Roosstraat, Onrus of by die Inligtingsburo.
Die Kalfiefees bied ook vanjaar 'n tentoonstelling aan van die werk van jong kunstenaars uit die Overstrand.
Dié werk kan gedurende die feesnaweek van 7-10 Augustus in die voorportaal van die burgersentrum besigtig word. Van die werk word te koop aangebied.