Operasie Brakkenjan het van die hondjies in nood se stertjies weer laat waai en hulle geblaf klink gesond. Sewe groot sakke hondekos is ontvang, asook blikkieskos, komberse en 'n paar stukkies hout om hondehuisies te bou.
Die afgelope paar weke word meeste donasies by 'n bekende weldoener, tannie Joyce afgelaai. Die brakkies in Zwehile ken al haar motor, en wanneer sy daar stilhou, lyk dit soos 'n hondebasaar. Tannie Joyce is nie meer vandag se kind nie, maar sy ry elke week rond en kyk waar daar honger, verwaarloosde hondjies is en gee dan vir hulle kos. Van Hermanus, Zwehile, Mt. Pleasant tot in Hawston. Sy het self sewe rondloper-hondjies wat sy aangeneem het, maar kyk steeds na ander honde sonder heenkome en sonder kos.
Die res van die donasies word oordeelkundig uitgedeel aan mense wat nie in staat is om na hulle diere om te sien nie.
Enige donasies soos kos, komberse en houtplanke om hondehokke te bou, kan by die Hermanus Times se kantoor in Aberdeenstraat afgegee word.