Skud nou al die vere reg vir 'n Hermanus Times Kalfiefees soos min met dramaproduksies uit die boonste rakke en musiek in elkeen se smaak.
Benewens die versterkings vir die gees sal daar ook heelwat wees om aan te smul en vir diegene wat koulik voel is daar geleentheid om behoorlik litte los te maak gedurende die groot Saterdag-aandmakietie.
Bespreek sommer nou vir die Vrouedagete met regte Overbergse kos, geskenke en 'n paar puik sprekers op Vrydag 8 Augustus in die stalletjietent langs die De Wetsaal.
Verlede jaar was die kaartjies vir die kuiergeleentheid sommer vroeg-vroeg al uitverkoop.
Die skryster Dine van Zyl gesels oor haar jongste boek Agter die lekkerte aan terwyl Petrovna Metelerkamp so 'n bietjie meer vertel van geliefde skrywer Audrey Blignault se briewe wat 'n ganse nuwe wêreld vir vroue oopmaak. Die briewe waarmee elke vrou sekerlik sal kan vereenselwig is pas met die titel 'n Blywende vreugde gepubliseer.
Vanjaar se Kalfiefeesopdragstuk Audrey is gebaseer op die briewe en verwerk deur Saartjie Botha.
Daar sal ook geskenkies en ander verrassings by die Vrouedagete wees. Kaartjies vir die geleentheid kos R90.
Die lekkerte duur Saterdag voort wanneer die Stoepstorievertellers leef en beef vroegaand vermaak met hulle kwinkslae.
Kom luister om 19:00 na Ollie Viljoen en sy trawante, Pietman Geldenhuys, Steyn Smit en Arno van Zyl.
Die Mystic Trio (Ollie Viljoen, Pietman Geldenhuys en Valiant Swart) tree net daarna op met kookwatermusiek wat die voetsole sal laat jeuk.
Kom dans 'n bietjie langarm op die maat van musiek wat beslis die koue sal verdryf. Kaartjies kos R60.
Sondag se middagete beloof om vir verdere lekkerte te sorg.
Kom geniet Overbergse boerekos saam met die gesin en Sondagkuiergaste in die tent langs die De Wetsaal.
Verlede jaar se Sondagmiddagete was 'n groot bederf.
Die ete word van 12:00 af bedien en kaartjies kos R60.
Onthou dat kaartjies vir die ete nie by die deur gekoop sal kan word nie maar bespreek moet word.
Kaartjies is te koop by die Kalfiefeeskantoor langs die De Wetsaal in Roosstraat, Onrus. Skakel 028-316 1687 of gaan na www.kalfiefees-hermanus.co.za.