Indien u vandag na die tuine rondom Huis Lettie Theron (HLT) kom kyk, sal u verbaas staan om die totale metamorfose van die tuin aan die oostekant van die gebou waar te neem. Die man wat hiervoor verantwoordelik is, is niemand anders nie as Willie Neusch.
In die tuin het hy eiehandig elke klip, elke steen en ander blokke op hul plek geplaas, grond aangedra - in 'n 20 liter emmer.
Hy het wandelpaadjies aangebou en banke op strategiese plekkie onder koeltebome geplaas. Hy het die een houtbank self gebou en 'n staal-bank van sy boesemvriend gekry. Die paadjies, sê Willie, het hy gemaak dat die bure kan rond loop om na die mooi gekleurde blomme en plante te kyk. Hy het min plante geplant om baie water te spaar en die wandelpad maak die tuin mooi lyk soos ons eie Kirstenbosch tuin. Ons bure op die twee tuinbanke kan sit en boeke lees of brei soos hulle wil.
Willie kom van die Paarl af waar hy skoolgegaan het totdat hy na De la Bat skool op Worcester gegaan het. Hy is 'n besonderse kreatiewe persoon. Sy groot liefde is hout- en tuinwerk. Hy het nooit by 'n universiteit geleer nie - alles is sy eie talent en harde werk. In 2000 het hy by De La Bat 'n goue medalje ontvang vir houtwerk en mimiek.
Hy het reeds talle rakke, muurtafels, kassies wat die swart dromme in die gange versteek, en kantoortoerusting vir die tehuis gemaak. Die hele ontvangskantoor is van nuwe kantoormeubels voorsien wat hy self ontwerp en met sy twee hande gemaak het. Hy het ook in die biblioteek 'n aantal kaste gemaak. Sy hande staan feitlik vir niks verkeerd nie.
Dié dowe man het vir homself 'n klokkie-stelsel ontwerp dat wanneer die klokkie tweemaal gedruk word, dan flikker sy twee staanlampe langs sy bed.
Willie se stokperdjie waar hy ure in sy kamer homself mee besig hou, is om legkaarte te bou. Hy het 'n spesiale groot tafel vir die doel gemaak. Hy het sy doofheid oorkom om te liplees en die meeste inwoners van HLT verstaan hom nou goed.
Hierdie kreatiewe en hoogs intelligente man se volgende projek is om met die tuin by die Hermanus provinsiale hospitaal te help.