Woensdagoggend 16 Julie het op 'n vrolike noot afgesit toe Kate's Village restaurant binne minute in 'n tuin omskep is.
Die geleentheid was KANSA se &3147Koppie vir Kanker met die uitnodiging: Kom na my tuin. Dit het die winterkoue vir 'n wyle laat wyk en plek gemaak vir 'n vervroegde lente. Die 13 gasvrouens het in gesellige luim hul tafels ingeklee met blomme en al die vrolike cupcakes waarop KANSA se vlaggies van hoop gewapper het. Die tafels van Maryna Visagie en Curves is aangewys as die wentafels.
Party dames het ook gespog met 'n vrolike hoed en die wenner hiervan, was Mavis Muir.
'n Tafeldoek, geskenk deur Bernina, is uitgeloot en is deur Sue Thomas gewen. Met die musiek van Ben, The Piano Man in die agtergrond, het die 100 gaste heerlik saamgekuier en weer eens bevestig wat vriendskap vir mekaar kan beteken. Die tema van vanjaar se Koppie vir KANSA is juis Wees 'n vriend/in vir 'n kankeroorlewende.
Dit is met hierdie onderwerp in gedagte, dat die gasspreker van die oggend, Wilna Snyman, die doyen van die SA toneelwêreld, haar insiggewende praatjie gelewer het. Sy is self 'n kankeroorlewende en kon haar ondervinding met almal deel en wys op die krag van gebed en ondersteuning van familie en vriende.
Mens is so geneig om te dink dit kan nie met jou gebeur nie en as die nuus jou tref, kan jy in 'n diep depressie verval. Sy het daarop gewys dat kanker nie geheim gehou behoort te word nie. Neem die vrymoedigheid om daaroor te gesels en waak teen vereensaming. Geeneen van ons is 'n eiland nie en het ander mense nodig. Sy beklemtoon die belangrikheid van 'n gesonde lewenstyl, regte dieet, die belangrikheid van gereelde ondersoeke en om in voeling te bly met jou eie liggaam.
Kanker hoef nie 'n doodsvonnis te wees nie. Vroeë opsporing van kanker dra by in die stryd daarteen en die oorwinning daarvan. Sy beveel aan dat mense kennis opdoen oor kanker en as jy enige medikasie moet gebruik, vergewis jou oor die newe-effekte daarvan.