VICTORIA-WES se Kontreifees, waar kos en klanke jou sal kielie, vind op 25 en 26 Junie plaas. Hierdie Karoodorp en sy mense nooi almal uit om saam met hulle te kom fees vier en die hart van hul kontrei te ervaar.
Diegene wat hul stapskoene inpak, kan al langs die Ribbokplato-roete koers kry as die son sy eerste strale oor Victoria-Wes strooi, of by die wegspring van die Moonlight Hill-voetpad moerkoffie en boerbeskuit rondom koledromme geniet.
Kom waardeer die dorp se argitektuur, gaan op begeleide toere langs sy historiese roetes, jag op plase in die omgewing, leer die fynere kuns van wildvleisbewerking, maak kos saam met kenners, koekeloer die taksidermis se kunsies en snuffel vir winskopies tussen die stalletjies. Verskeie plaaslik vervaardigde produkte soos droë vrugte en wors, biltong, olywe en konfyt, tot smullekker gebak en klein geskenke sal by die local-is-lekker-tafel te koop wees.
Sportgeesdriftiges kan die plaaslike netbaltalent en sewes-rugbytoernooi ondersteun, mini-gholf in die biertuin speel, die distrik se junior tennisspelers en gimkana-ruiters aanmoedig en kyk hoe van Noord-Kaap se skolespanne in 'n luggeweer-skietkampioenskap vaar.
Die broers Cobus en Christo Snyman en Manie Scholtz is vanjaar op die musiekspyskaart. Die tradisionele informele dansparty sal op die skouterrein plaasvind.
Vir meer inligting bel Marietjie Lochner, feesvoorsitter, by 084-5808347.