Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
Error processing SSI file
 

Voorblad
Wegbreke
Artikels
Toere
Dagboek
  • 4x4-datums
  • Bergklimdatums
  • Stapdatums
  • Sê jou sê
    Boeke
    Wenfoto
    Volksblad
    Weer
     
    Wie's Ons Soek Advertensies
      Aangebied deur:

    28/07/2004 02:15 PM - (SA)
    Van Zylspas is ongeëwenaarde adrenalien
    PIETER DU TOIT


    DIS mos nou lekker, dink ek. Jip - hier sit ek, to hell and gone, in die noorde van die eertydse Suidwes in 'n geleende 4x4 en staan en wag voor nóg 'n afgrond.

    Voor my het oom Cronjé Hanekom -- wat, so verneem ek, begin vat-vat aan die 70 -- een van die soveelste kranse by die berugte Van Zylspas in Kaokoland af maneuvreer.

    Dié pas is in 1965 deur die destydse S.W.A.-administrasie se bantoekommissaris, mnr. Ben van Zyl, en 20 werkers, uitgekap om aan hom 'n eenvoudiger roete tot in die Marienflüss-vlakte te gee.

    Deesdae verskaf dit ure se foltering aan kamma-4x4-kenners.

    "Krans" is die enigste akkurate beskrywing vir van die monsteragtige steiltes wat 'n mens op dié 13 km van loutere beproewing teëkom.

    En die nuutste nommertjie is hoegenaamd nie te versmaai nie.

    Ons het die Ovivera-dam, waar ons die vorige aand oornag het, vroeg verlaat, en toergids Jan Joubert het die omgewing, sy mense en die natuur in sy tipies welsprekende manier ontbloot voordat ons die eerste grag oorsteek.

    Hier kom 'n ding, dink ek toe die twee Van der Merwe-susters in hul kortgat Pajero mét 'n sleepwa deur die klein driffie is.

    Die vietrekvoertuie ry almal in gelid agter Jan aan en hy verduidelik maar hoe om die eerste (klein en onbenullig, sou ek later besef) struikelblok te oorkom.

    Die nie-meer-so-blink Toyota is volgens oorlewering een van die ysters om hierdie ongenaakbare geweste aan te durf, dus sien ek uit na die uitdaging.

    Wat my egter effe bekommerd maak, is die rotse waaroor ek sal moet ry wat teen 'n knap helling onder die motor verdwyn.

    Sit mos maar die Toyota in lae strekking, gooi hom in eerste rat en laat kompressie (donkierat) die ding doen -- in teorie, maar in praktyk is dit 'n heel ander ding om jou brein te oortuig dat die bakkie nie teen die afdraande met jou op loop sal gaan nie.

    Ek is toe die steiltetjie -- 'n vulletjie -- so hinkepink en stall-stall af met oom Cronjé agter my wat sekerlik gedink het "Waar kry Volksblad hierdie amateur om saam te ry?"

    Teorie word later oorgesit in praktyk, en groentjie wat ek is, raak ek toe heel in my noppies met my vordering tussen hierdie hardebaarde van die Hardbody's -maar ek moet sê, dit was heel geregverdig. . . tot kort ná middagete, met die eindpunt in sig.

    Dus: Hier staan ek en wag. Oom Cronnies is reeds onder. En hierdie stuk is loshande die uitdagendste van die lot. Standaardpraktyk vir al agt voertuie by elke berg of dal op Van Zyls was soos volg: Jan Joubert ry voor en klim met sy gemodifiseerde-4x4 die steilte uit of af.

    Dit neem 'n rukkie, want die rotse waaroor hiérdie vier bande moet ry is nie jou standaard-gruisklippies nie.

    Dit wissel van vlymskerp rotse wat daai d??r Continentals teen die verkeerde hoek of teen die verkeerde spoed lag-lag sal verrinneweer, tot rotse wat soos bakstene bo jou uittroon.

    Dié laaste daling het benewens die vlymskerp-rotsvariant, as bonus, los rotse waar jy óók moet oor. Aan die linkerkant val 'n val lei weg, en regs 'n rotswand.

    Jan is eerste die krans af, gevolg deur Naas du Preez en die Van der Merwe-susters, albei met sleepwaens.

    Fyn berekening deur Naas en Retha Forster (wat die Kort Pajero bestuur) het bepaal dat een van die groot rotse baie stadig van agter bekruip moet word, stadig jou balans op hom te herwin en oor te ry. Hy sal blykbaar soos 'n wipplank 'n brug vorm.

    Ja, ja. Die geneuk is natuurlik dat die spesifieke rots aan die linkerkant van die paadjie lê, dus: op die rand van die afgrond.

    Naas en Retha is albei daar af - maar nie voor eersgenoemde se lewe vlugtig by hom verbygeflits het en Hans van Rooyen se oë al was wat tussen hom en die Ewigheid gestaan het nie.

    "Toe ek besef ek is op die rand het ek net gevries en oogkontak met Hans gehou -- hy't my beduie wat ek moet doen, maar my brein wou nie reageer nie!" was Naas se oorblufte reaksie voor hy 'n Tafel Lager moes oopslaan net om te kalmeer.

    Retha het ook amper as gevolg van daai los rots gegroet: Sy het in 'n stadium met net twee wiele op die grond gery. . .

    Wonder bo wonder het die uwe dit gemaak, en dit was grootliks te danke aan die tegnologiese won der wat my voertuig is.

    Van Zylspas is 'n ongelooflike avontuur -- maar een wat nie sonder die nodige kennis of leiding aangepak moet word nie. Die steiltes en opdraandes is wreed, die hitte knouend en die vrees altyd daar -- maar die gevoel van adrenalien wat deur jou are pomp nadat jy die pas voltooi het, is ongeëwenaar.

  • 'n Reuse-woord van dank moet aan Toyota Suid-Afrika gaan wat 'n splinternuwe Toyota Hilux tot die Volksblad-span se beskikking gestel het -- dié bielie van die Bosveld het hom deeglik op elke terrein van Namibië laat geld!




    Back to top     Na bo

    © 2004 Buitelewe (Volksblad) - Kopiereg Voorbehou

     

  •