DIE eerste ekspedisie van die VolksbladAvontuurklub was volgens alle aanduidings 'n reuse-sukses!
Sewe 4x4-voertuie het saam met toerleier Jan Joubert die mooiste tonele denkbaar in die pragtige Namibië gesien en plekke besoek wat, soos gasheer mnr. Naas du Preez gesê het, "niemand op 'n gewone toer" sal sien nie.
Joubert het sy 14 toergangers voorwaar op 'n ongelooflike tog geneem, en almal op die toer kan getuig dat die passe wat oorgesteek is, die plato's wat bespied en die kampe wat opgeslaan is, sekerlik van die mooiste dele van die natuur denkbaar is.
Die toer het deur amper die hele Kaokoland gekronkel, en het plekke ingesluit soos die Epupa-watervalle, Van Zylspas en die Mariënfluss. Swakopmund is op 21 Mei ná die Damaraland, die Namib-woestyn en Myl 72 bereik en die vele gesigte van dié dorre en wyd uitgestrekte land is weer tuisgebring toe digte mis en 'n yskoue Weskus-wind die kontras met 40 grade Celsius van vroeër die middag in die Messum-krater beklemtoon het.
Joubert se wye kennis van plantegroei en voëllewe het die ekspedisiegangers soveel ryker gelaat as nét die asemrowende tonele wat hulle amper elke dag aanskou het.
Kampplek was meestal "droog" (geen ablusiegeriewe nie), maar daar was verskeie kampe waar geriewe van 'n hoë standaard beskikbaar was.
Behalwe toe die voertuie van mnr. Naas du Preez en mev. Retha Forster (albei met monster-sleepwaens) hulself met 'n wrede rotstrap en los klip op die berugte Van Zylspas misgis het, het die hele toer vlot verloop.
Du Preez, hoofbestuurder van die Volksblad-Groep, het gesê die toer was 'n reusesukses en dat dié eerste poging deur die avontuurklub beslis nie die laaste een sal wees nie.