GEOBERGING is 'n onderhoudende avontuurspeletjie vir gebruikers van 'n globale posisioneringstelsel (GPS) wat wêreldwyd al hoe gewilder raak, aangesien die hele gesin daaraan kan deelneem. In Januarie vanjaar was daar reeds 38 626 geoskatte in 157 lande ter wêreld.
Geoberging kom basies daarop neer dat 'n voorwerp versteek word en dat die koördinate aan die geojagter beskikbaar gestel word. Die geojagter sleutel dan hierdie koördinate op sy GPS in, beweeg na die gebied en soek die skat.
Om aan 'n geoskattejag deel te neem is goeie oefening in die gebruik van die verskeie eienskappe van 'n GPS-toestel.
Die basiese idee is dat individue en organisasies geoskatte oral in die wêreld versteek en dan die koördinate op die internet beskikbaar stel. GPS-gebruikers kan dan die koördinate gebruik om die ligging van die geoskat vas te stel.
Die geoskat kan talle verrassings oplewer. Al wat van die besoeker gevra word, is dat as hy iets kry, hy iets anders in die plek daarvan moet laat.
'n Geoskat kan verskeie vorms aanneem, maar die eerste voorwerp in so 'n skat moet altyd 'n logboek wees. In sy eenvoudigste vorm kan 'n geoskat slegs 'n logboek wees.
Die logboek bevat inligting oor die oorspronklike geojagter, asook kommentaar en inligting oor besoekers aan die skat.
Die logboek kan ook allerhande belangrike of vermaaklike inligting bevat. 'n Goeie logboek kan inligting bevat oor nabygeleë besienswaardighede en koördinate van ander ongepubliseerde geoskatte.
As jy inligting uit die logboek kry, behoort jy ten minste jou naam, asook die datum en tyd, daarin te skryf.
Die geoskat word gewoonlik in 2 F -roomyshouers geberg sodat dit waterdig is. Daar word aanbeveel dat artikels afsonderlik in waterdigte plastieksakkies in die houer geberg word. Groter skatte kan onopvallend in 'n plastiekemmer of iets dergeliks versteek word.
Die emmer kan die logboek, asook verskeie ander interessante artikels, bevat. Hierdie artikels verander dan die vonds in 'n ware skat, veral as dit op 'n afgeleë plek is. Die inhoud van so 'n skat kan wissel van 'n kaart, boek, CD, video, foto's, klub-plakkers, flitsbatterye of enigiets wat vir die buitelewe-entoesias 'n bonus sal wees.
Mense van alle ouderdomme neem aan hierdie aktiwiteit deel.
Eetbare artikels is nooit 'n goeie idee nie. Diere het 'n goeie reuksintuig en die hele geoskat kan verwoes word deur 'n dier wat die lekkergoed wou bykom.
Die ligging van 'n geoskat kan nogal taamlike vermaak verskaf. Soos met huiskoop, is daar drie belangrike vereistes. Ligging, ligging en ligging!
Die ligging van 'n geoskat stel eise aan die mens wat dit oorspronklik versteek en dit toon sy vernuf, asook moontlike waagmoed.
Die geoskat kan langs 'n staproete of 4x4-roete versteek word, of teen 'n krans waar slegs ervare rotsklimmers toegang sou hê. 'n Geoskat onder die water sal slegs deur duikers gevind kan word. Geoskatte word ook in stede versteek en die skat kan bogronds of ondergronds wees.
Selfs met die akkuraatheid van 'n GPS sal dit maar 'n moeilike taak wees om 'n skat onder die water of in 'n inkopiesentrum op te spoor. Wanneer 'n skat versteek word, moet dus in gedagte gehou word dat iemand anders dit moet kan vind!
Wat het 'n mens nodig om by geoskattejag betrokke te raak?
'n GPS, 'n avontuurlustige gees,'n liefde vir die natuur en so 'n bietjie deursettingsvermoë. 'n Kaart kan ook help.
Vra raad by gesoute geojagters, of besoek www. geocaching.com.
Dis altyd belangrik om seker te maak dat jou GPS reg opgestel is in grade, minute en sekondes; anders kan jy die voornemende geojagter 'n kilometer van koers af laat soek.
Geoskatte word op 'n globale webtuiste, www.geocaching.com, bestuur en gedokumenteer. Baie lande, ook Suid-Afrika, word hier gelys en dis hier waar die avontuur moet begin.Die webwerf het 'n geselsforum waar 'n mens inligting kan verkry.
Geojagters behoort die sensitiwiteit van die ekologie in gedagte te hou en wegsteekplekke met oorleg te kies. As 'n skat op private grond geplaas word, vra toestemming by die eienaar. Die meeste 4x4-roetes en staproetes is op private grond.
Geocach, geocaching en geocacher is afgelei van die Franse woord cacher, wat beteken om weg te steek. Cache soos in Engels gebruik, beteken ook skat en in hierdie artikel word die begrippe geoskat, geoberg en geojagter gebruik.