PAUL ROUX. - 'n Besonderse staproete vir mense in rolstoele, bejaardes of ander verswaktes word op 3 Desember, Internasionale Dag vir Gestremdes, 17 km van dié dorp op die plaas Holhoek van die Amerikaner mnr. Rory Rouse geopen.
"Welkom in Rory se kerk," sê hy en sy blou oë blink van byna kinderlike opgewondenheid terwyl hy met 'n grootse swaai van sy arm na die Oos-Vrystaatse berge om hom wys.
"Ek wil aan huisgebonde mense soos gestremdes en bejaardes teruggee wat hulle so lank ontbeer het," sê hy.
Hy en 'n span werkers hettonne sandsteen aangery en fyn gemaak vir die uitlê van die wandelpaadjies.
Bejaardes en gestremdes kan op die roete van 4,3 km gemaklik die Oos-Vrystaatse natuurskoon, die ryk plantegroei en wild bewonder. Die roete gaan digby Boesmantekeninge en -huisies, dinosourusspore in rotse verewig en onderdeur grotte met oorhangrotse waar 'n waterval oor druis.
Rouse se nege sterk, opgeleide manlike personeellede help gestremdes met hul rolstoele en kan ook bejaardes ondersteun.
Alles op die plaas word baie arbeidsintensief gedoen. Hy het 12 mense in diens en gebruik 19 vroue om gras vir dakke te sny. Hy sê die meeste gestremdes en bejaardes kan by ander staproetes hoogstens 400 m of so ry of loop. Sy roete op Holhoek bring hulle nader aan die natuur.
Met inligting en raad van me. Liza Wessels, 'n gestremde vriendin van Bethlehem, en mnr. Fanie du Toit en me. Therina Wentzel van die Vrystaatse Vereniging vir Mense met Gestremdhede en Dowes, het hy toeganglike slaapgeriewe, kombuis met gasstowe, ys- en vrieskas, badkamers en toilette gebou -- en herbou -- totdat hulle tevrede was dat para- en kwadrupleë dit sal kan gebruik.
Met die eerste roete ná 22 maande se geswoeg voltooi, beplan hy 'n tweede staproete sodat gestremdes en bejaardes langer na aan die natuur kan wees en om hul reis hierheen die moeite werd te maak. Hulle sal ook rondgery word om wild op die plaas te besigtig.
Vyftig gestremde kinders van Qwaqwa het op Holhoek uitgespan nadat hulle met 'n toeganklike bus van die Maluti-busdiens hierheen aangery is.
Die pragtige slaapgeriewe by die mooi sandsteenbraaiplek het gordyne tussen die beddens om gaste se privaatheid te verseker. Die ligskakelaars langs die beddens is laag sodat gestremdes dit kan gebruik. Daar is ook spesiale muurproppe sodat elektriese rolstoele se batterye herlaai kan word.
By die braaiplek is 'n spesiale skerp lig sodat dowes ander mense se lippe kan lees.
'n Swembad met 'n hyser vir gestremdes is ook aanbou.
Op 'n plakket staan: Glory to God, the great creator of these mountains, caves, waterfalls and valleys. The Inspirer and Keeper of Holhoek hiking trail .
Belangstellendes kan (058) 471-0800 of me. Patricia Bonthuys by 082-8530-191 bel.
Die plaas het ook twee ander strawwe staproetes wat soms só moeilik is dat kettinglere uitgeklim moet word. In een van die grotte van 'n reuse-oorhangrots het oudpres. P.W. Botha se ma saam met sowat 200 vroue in die Anglo-Boereoorlog geskuil. Sy halfbroer, H.G. Prinsloo, is daarin gebore.
Konferensiegeriewe is ook beskikbaar.