RETHA FORSTER van Bloemfontein se tweede battery in die sleepwaentjie, waar die yskas geberg is, was ná enkele dae pap en sy wil weet waar die fout kon insluip aangesien alles nuut gënstalleer was.
Retha, dit is 'n baie algemene probleem wat ek dikwels opmerk. Daar is twee moontlike oorsake - soms hou dit met mekaar verband en soms nie.
Die eerste is dat daar by installering van 'n tweede battery foutiewe bedrading aangebring is. Gewoonlik is die verbindingskabel tussen die batterye heeltemal te dun. Nie net skep dit 'n wesenlike brandgevaar nie, want sulke dun kabels word baie warm, maar kan eenvoudig nie voldoende krag vervoer nie. Daar is 'n formule wat outo-elektrisiëns gebruik wat bepaal hoe dik die kabel oor 'n sekere lengte moet wees. My ondervinding is dat hulle dit egter meestal verkeerd bereken. My raad is om dik, 35 mm kabel van meet af in te sit en dit ordentlik te beskerm met gorrelpyp.
Tweedens ontstaan die probleem omdat daar dikwels 'n te klein tweede battery gënstalleer was en ook dat die gesamentlike batterystelsel en alternator eenvoudig te lig in die broek is. Stel jouself voor jy ry vir dae in die veld met die lugversorger aan, die CD-speler en luidsprekers oopketel, die tweerigtingradio aan terwyl die sigaretaansteker se sok ook nog 'n selfoon laai. Agter in die voertuig of sleepwa word nog van die yskas ook verwag om ys te maak. Saans word die yskas net so aan gelos. Teen die derde oggend begin die batteryprobleme.
Samevattend, om hierdie probleme te vermy:
Gebruik 35 mm verbindingskabel tussen batterye en installeer 'n solenöde tussen die twee batterye.
Laat 'n outo-elektrisiën vasstel wat die kragleweringsvermoë van die voertuig se alternator is en maak daarna 'n keuse van 'n tweede battery nadat die yskas se kragverbruik ook vasgestel is.
Sien toe dat die tweede battery 'n diepsiklussoort is.
Werk spaarsamig met jou voertuig se kragverbruik. Dit is beslis 'n uitputlike bron. As voorbeeld beveel ek aan dat yskaste saans afgeskakel word vir die nag en met 'n kombers bedek word. Môreoggend sal alles nog kliphard geys wees. Ry die volgende oggend eers 'n halfuur voordat die yskas aangeskakel word.
Barbara van Vereeniging wil weet of dit veilig is om yskaste in sleepwaens te vervoer.
Beslis nie! Dis veilig indien daar op goeie gruispaaie en teerpaaie gery word, maar in die buitebaan verander die prentjie heelwat. Omdat 'n sleepwa net twee wiele met 'n starre as het, is die bewegings oor ruwe terrein redelik radikaal. Dit bring mee dat van die olie waarin die pomp gehou word, verkeerde plekke kan binnedring . Ook word dit baie warm in 'n sleepwa - veral in warm temperature - waar min of geen lugbeweging is nie. Nie net funksioneer die yskas sleg nie, maar dit kan uiteindelik oorverhit (ek het al in die Messum-krater temperature van 46C ondervind en 'n mens kan nie waag om aan die metaal van 'n sleepwa te raak nie!). Die beste plek vir 'n mobiele yskassie is binne die voertuig se laairuim of bak.
Jan Joubert is 'n bekende safarileier, skrywer en joernalis. Rig vrae aan hom oor enige aspek van reise in die sub-kontinent by janjoubertsafaris@absamail.co.za.