DIE Weskus was nog altyd een van die aanloklikste vakansiebestemmings in Suid-Afrika en is bekend om sy gasvrye inwoners en ongetemde en onvoorspelbare kuslyn.
Dié deel van die land bied onbeperkte ontdekkings vir diegene wat dit wil verken en dit is presies wat die span van Firestone 4x4-avontuurtoere in die Desember- skoolvakansie met twee opwindende toere na die Diamant-Weskus bied.
Om alles te kroon, sal die Diamant-Weskus-toer 4x4-avonturiers neem na plekke wat nog tot onlangs nog ontoeganklik vir Jan en alle man was. Deelnemers ontmoet op die eerste dag op 'n gasteplaas net buite Kleinsee - 'n magiese plek wat omring is deur die gebied se eiesoortige geharde plantegroei. Die beste van alles is dat avonturiers hier op die gasteplaas bloot net agteroor kan sit terwyl hulle op tipiese Namakwaland-gasvryheid verwen word.
"Vroegoggend op die tweede dag besoek ons die Kleinsee-diamantmyne vir 'n daglange verkenning van die gebied wat alles van oop mynskagte tot van die grootste grondverskuiwingstoerusting in Afrika insluit," sê Frank Carlisle, ervare toerleier van 4x4-avontuurtoere.
Die derde dag begin met ontbyt, gevolg deur 'n opwindende 4x4- roete. Dié uitdagende roete sluit onder meer spesiaal uitgesoekte versteurde duine in om deelnemers se duinrytegnieke op te kikker.
Die vierde dag word dié bykans onaangeraakte deel van Suid- Afrika verken op 'n grondpaadjie wat al langs die kus af kronkel. Volgens Carlisle is die hoogtepunt van die dag sonder twyfel die agt skeepswrakke wat die groep sal teëkom - 'n strakke voorbeeld van hoe ongenaakbaar hierdie deel van die Weskus kan wees.
Op die vyfde dag verken deelnemers die gasteplaas op 'n pragtige, dog uitdagende 4x4-roete wat grondpaadjies, pragtige natuurskoon en unieke plantegroei insluit. "Net 14 voertuie sal toegelaat word om te verseker dat almal 'n onvergeetlike ervaring het. Só verseker ons dat ons die minste steurnis veroorsaak in die ongerepte en soms ekologies sensitiewe gebiede wat ons die voorreg het om te besoek," het Carlisle gesê.