HOGSBACK in Oos-Kaap kruip onder 'n mens se vel in en gaan sit in jou bloed. As jy eers eenkeer daar was, sal jy verseker teruggaan.
Dit is nie nodig om 'n Lord of the Rings- en Tolkien-aanhanger te wees nie. Die boswêreld, watervalle, dae wat in mistigheid gehul is, berge, blommeprag en rustigheid van die dorp maak dat tyd stilstaan en jy hier wil bly.
Ons eerste besoek aan Hogsback was twee jaar gelede, toe ons die Amatola-staproete in die omgewing aangepak het. Toe reeds het ons die bergfietsroete- bordjies gesien en besluit om volgende keer die fietse saam te bring.
Vroeër vanjaar het ons toe weer die tasse gepak - fietse op die fietsrak - en so ry ons op 'n mistige Saterdagoggend Hogsback binne. Ons gaan in Never Daunted by oud-Bloemfonteiners, Josef en Elsa Steyn, tuis.
Sondagmiddag gaan verken ons die omgewing met die fietse. Vanuit die hoofstraat draai ons af in Oaklaan. Hier is 'n geel-en- swart inligtingsbordjie wat 'n fietsroete aandui. Ons volg die bordjies al langs Forestrylaan tot by die Kettle Spout-waterval se uitkykpunt. Ná 'n ruskans draai ons terug met dieselfde roete tot by Oaklaan. Hier by die 39 Steps- waterval begin twee wandelroetes. Die 39 Steps is bereikbaar met die fiets.
Later die week het ons die nodige roetekaart en inligting by die Backpackers in Hydrangealaan gekry. Die bergfietsroetes is met groen, rooi en blou gemerk. Groot gedeeltes van die roetes is toegegroei en verwaarloos, maar steeds die ry werd. Die Backpackers verhuur ook fietse uit en jy kan reël dat 'n gids saamgaan.
Ons het egter die solitaire-opsie verkies en vroeg die Vrydagoggend in Wolfridgeweg afgedraai na die beginpunt. 'n Mens volg die pad vir omtrent 4 km, verby die Madonna and Child- waterval se uitkykpunt en oor die laagwaterbruggie van die Tyumerivier. Die beginpunt is dan so 100 m verder aan die linkerkant van die pad. Daar is geen bordjie of aanduiding nie. Ons het die blou roete gevolg wat na ons mening die begaanbaarste is. Die roete begin in 'n tweespoorpad wat met grasse toegegroei is. Jy volg die tweespoor tot in 'n grondpad. Van hier is die roete duidelik gemerk.
Ek het die dag se fietsry vreeslik geniet. Die roete bied jou iets van alles: smal bospaadjies, breë grondpaaie, houtbruggies oor stroompies, opdraandes om die bene te laat werk, denneplantasies, watervalle, natuurlike woud, 'n ryk voëllewe met onder meer die Knysa-loerie en vele meer. Ons het deur 'n "plantasie" bosvarings gery wat net so hoog soos die fietse was. Dis asemrowerd.
Dit het die vorige aand lekker gereën, wat alles nat, glad en modderig gemaak het - en soveel meer opwindend. Jy ry ook deur die bo-loop van die Tyumerivier net voor die water oor die kranse na benede stort.
Vir die fikser ryers is daar 'n ekstra sirkelroete - dit word met 'n rooi bordjie aangedui as alternatiewe roete. Ons roete het weer in Oaklaan in die dorp geëindig. Die afstand van die roete (sonder die sirkelroete) is 15 km.
Ons het al heelwat padfietswedrenne gery, maar dit was die eerste bergfietsroete wat ons aangepak het.
Tydens padfietsrenne is spoed en taktiek baie belangrik, maar by bergfietsry gaan dit meer oor balans en krag om oor daardie los klippe teen die opdraand uit te kom.
Indien jy bergfietsry vir 'n stokperdjie doen, gaan dit nie oor die tyd waarin jy die roete voltooi nie, maar die genot daarvan om die omgewing waardeur jy ry te verken.
Lees soveel as moontlik oor die onderwerp - jy geniet dit net soveel meer as jy ingelig is. Jacques Marais se Best mountain bike routes in South Africa het baie gehelp (berig hierby).
Dit is belangrik om die nodige gereedskap saam te neem vir wielherstelwerk en ander klein verstellings aan die fiets. Ek het slym in my fietswiele en het steeds 'n pap wiel gekry wat eers herstel moes word.
Met die regte toerusting en 'n mate van fiksheid is so 'n bergfietsroete 'n belewenis.
Bergfietsry in die Vrystaatse koppies is heerlik, maar niks kom by die misterieuse paadjies in die Amatola-bos nie . . .