Best Mountain Bike Rides in South Africa deur Jacques Marais, Susanna en Herman Mills. Struik: R230
BERGFIETS-ENTOESIASTE kan gerus hierdie nuttige boek oor die 20 gewildste bergfietsroetes in die land deur lees.
Elke roete word beskryf met aanwysings van hoe om daar te kom en wat die roete behels, kleurryke foto's, 'n profielkaart en roetekaarte.
Die skrywers het moeite gedoen om roetes oor die hele Suid- Afrika heen in te sluit sodat daar 'n groot verskeidenheid is. Elke roete se kenmerkendste eienskap word uitgewys. So word byvoorbeeld verwys na die Augrabies-bergfietsroete as die beste gruisroete, die Wildtuinroete as die "wildste" roete en die Wilde Kus as die avontuurlikste roete.
Die Vrystaatse Koranna-bergfietsroete verteenwoordig die sentrale deel van die land. Dié 30 km-roete is ideaal vir Vrystaters wat op soek is na 'n naweek-uitstappie.
Hierdie bergfietsroete in die Koranna-bewarea is in 1990 deur die Marquard-sakekamer en die Johannesburg-bergfietsklub uitgelê en was die eerste amptelike bergfietsroete in die land.
Benewens volledige beskrywings van die 20 roetes, is daar oral praktiese wenke.
Die skrywers het heelwat ervaring van bergfietsry en gee lesers onder meer raad oor hoe om op sand te ry, erge afdraande te oorleef, koning in die berge te kraai en vele meer.
Die boek is goed saamgestel en die skrywers moet beslis 'n pluimpie kry vir die pragtige foto's in die boek.
Bergfiets-entoesiaste sal die boek geniet en diegene wat nog nie deur dié gogga gebyt is nie, sal beslis lus kry om 'n fiets aan te skaf.