KORRESPONDENT
HELDERBERG HET SEKER VAN hul beste rugby hierdie seisoen opgedis, maar dit was weer nie genoeg nie.
Ikeys het hierdie uitgestelde Superliga A kragmeting op Charles Morkel met 41-33 gewen, maar die telling vertel nie die hele storie nie.
Die studente was kookwater van die afskop af en Helderberg weer eens stadig uit die blokke.
Ikeys het na 20 minute driemaal gaan druk en die tuisspan het slegs met twee strafdoele van heelagter, Ian Coetzee, geantwoord (21-6).
Nog 'n verdoelde drie en Helderberg was diep in die moeilikheid (28-6).
Helderberg het toe wakker geskrik en na goeie dryfwerk is die haker, J.G. Giliomee, oor in die hoek (28-11).
Vanaf die afskop was Helderberg weer op die aanval en Giliomee het sy eie skoppie opgevolg voordat hy sy kap?tein en slot, De Wet Neethling, in besit gestel het.
Neethling het in die oorkantse hoek oorgebars (28-16). Beide doelskoppe was wyd en die rustydtelling staan op 28-16.
Helderberg val aan
Helderberg was nou aanvallend ingestel en dit was geen verrassing toe hulle weer punte aangeteken het nie. Senter Stephan du Toit het sterk gebreek en die haastige Anthony Maarman, nou op heelagter, weggestuur.
Maarman het hakke gewys en is oor in die hoek (28-21).
Benna October moes noodgedwonge op losskakel oor?neem nadat ook Iaan Coetzee die veld met 'n besering moes verlaat.
October het 'n ander kant van sy talente gewys, deur met goedgeplaasde taktiese skoppe die studente te laat omdraai.
Van een so 'n skop was linkervleuel Christo Southey net ongelukkig om die bal nie op te tel nie, anders was hy oor vir nog 'n drie.
Ikeys het met 'n strafdoel sukses gehad (31-21).
Van nog 'n skop van October het Ikeys se heelagter onder druk 'n windskeef skop gelos, wat reg in die hande van plaasvervanger regtervleuel Shaun Labuschagne beland het.
Lus vir hardloop
Labuschagne, terug in die span na nege wedstryde, was lus vir hardloop en het die bal agter die pale geplant.
Die skop was mis (31-26).
Ikeys het 'n strafdoel bygevoeg 34-26.
Helderberg was weer op die aanval en het die studente onder groot druk geplaas. 'n Skoonmaakskop in Ikeys se doelgebied is afgeneem deur die klein Helderberg skrumskakel Breyten Isaacs en hy het die bal toegeval (34-31).
De Wet Neethling het uit desperaatheid die stelskopwerk oorgeneem en met die doelskop geslaag (33-34).
Met tyd byna verstreke het Ikeys hul enigste drie van die tweede helfte gedruk en hul skopper het boonop van die kantlyn af verdoel (41-33| om Helderberg tot een punt uit die wedstryd te beperk.
Komplimente na die wedstryd van Ikeys se afrigter en bestuur bevestig net dat Helderberg sonder om te wen tog 'n gedugte teenstander is.
Dit is ook duidelik dat Helderberg gevaarlik op die aanval is, maar dat daar gewerk moet word aan die verdediging.
Vir Helderberg het Anthony Maarman eers op regtervleuel en later op heelagter geskitter en ook Shaun Labuschagne toe hy op die regter?vleuel moes oorneem.
Stephan du Toit op buitesenter was meer as bestendig, terwyl Benna Oktober eers as binnesenter en later as losskakel ook blink vertoon het.
Breyten Isaacs het op skrumskakel veral uitgeblink met sy vinnige distrbusie.
Die agttal het stadig begin, maar later gekook. Die lostrio, Charlie Mentoor (agsteman), Gary Williams en Johan Kruger was op hul kop en die beste voorspeler was die haker, J.G. Giliomee.
Die Nando's spelers van die wedstryd is toegeken aan J.G. Giliomee en Anthony Maarman.
Hierdie Saterdag speel Helderberg teen die W.P. Kampioene, Die Maties, op Craven Stadion en die hoofwedstryd vind plaas om 17:30.
Ander uitslae: Helderberg IV 40 - Langa 0, Helderberg o/20 B 29 - Paarl A 14.
Ligawedstryde
Klubverpligtinge die na?week: Vrydagaand: Superliga B: Strand Utd vs Kuilsrivier op Kuilsrivier.
Divisie 1: Strand vs Kylemore op Gustrouw; Saterdag: Superliga A: Helderberg 1, 2, 3 en o/20 A vs Maties op Craven Stadion Helderberg 4 vs Valsbaai tuis om 13:30, o/20 B vs U.W.K. A tuis om 14:45.
Premierliga B: Macassar vs Langa op Macassar Sports, St. Georges vs Silverleaf op Elsiesrivier.
Divisie 1: Raithby Universals vs Hamediehs op Vygekraal.
Divisie 2: Sir Lowrians vs Manenberg Rangers op Manenberg, Strand Pioneers vs Peninsula op Abattoir Park en Whistling Wheels vs Atlantis op Protea Park.
Divisie 3: Eersterivier vs Blue Downs op Delft.
Divisie 4: All Saints - lossloot.