"WAT 'n skande is dit!" het gemeenskapsleiers van die Strand in die Rusthof woongebied uitgeroep het nadat hulle die nuwe kleedkamers van die Abattoir sportvelde besoek het.
Die kleedkamers, wat skaars drie jaar gelede opgerig is, is teen 'n koste van meer as 'n kwartmiljoen rand opgerig en is deur diewe oor 'n tydperk van 'n maand geplunder.
Die plek is kaal gestroop en die wasbakke en toiletpotte is stukkend geslaan.
Jannie Frieslaar, voorsitter van die Strand se polisieforum, sê die buurtwagte van Rusthof gaan nou by een van die kleedkamers hul intrek neem om te verhoed dat die tipe van misdaad daar voortduur.
Volgens mnr. Frieslaar moet die howe strenger teen diegene optree wat gesteelde goedere koop.
Hy meen indien dit gebeur, sal die mark vir gesteelde goedere nie soos rooskleurig wees nie. Ook moet skrootwerwe beter gepolisieër word.
Hy sê die diewe het al die kleedkamers se deure, veiligheidshekke, warmwatersilinders, elektriese bedrading asook koperpype gestroop.
Behalwe vir die stroping van die kleedkamers, is die pale van die krieketnette ook gesteel.
Die diewe het dit na bewering aan 'n gesiene inwoner verkoop. Die buurtwag van Rusthof, onder leiding van Wayne Daniels, het inligting opgevolg en die gesteelde goed by die man se huis gekry.
Hy sê die polisie weet van alles en of die man aangekla gaan word, bly 'n ope vraag.
Hulle glo dieselfde mense is ook verantwoordelik vir die diefstal van die 1 000 siersteen bakstene wat by die Laerskool Dr. G.J. Joubert gesteel is.
Mnr. Daniels sê sedert die buurtwag die sportkompleks begin patrolleer het, het hulle baie mense daar gevind wat of wil inbreek of groot mans wat met minderjarige kinders seks het.
Hulle waarsku mense om nie na ure daar rond te hang nie, wat hulle oortree die wet.
Die nuwe tendens is dat diewe veral kerke begin teiken. Hulle steel die kerke se hekke en diefwering om aan skrootwerwe te verkook.
Mense met inligting en wat weet waar gesteelde goedere geberg word, kan mnr. Frieslaar by 078 627 8938 bel.