DIE uitstalling, Fluff, is aan by die Rialto Kunssentrum in Millsstraat, Strand, tot 24 Desember.
Die drie kunstenaars wat uitstal, is Janine de Waal, Joubert Stander en Alta Stegmann en 'n verskeidenheid beeldhouwerke, illustrasies en kunswerke is op uitstalling.
Janine het argitektuur gestudeer by die Universiteit van Kaapstad, maar was nog altyd betrokke by kuns. In 2002 begin sy met 'n keramiekwerkswinkel by Hennie Meyer en klasse by Marianne von der Lippe. "Ek het laas jaar as 'n klasprojek 'n koekbord gemaak met hase, en vandaar het die haas obsessie gebyt en is ek steeds in my konyn fase...," vertel sy.
Die bronswerk het sy in Augustus begin. Sy vertel dat Margaret Woerman, eienaar van Heartworks, wat ook in haar keramiekklas is, haar aangespoor het om haar hase in brons te giet.
Alta Stegmann is 'n vryskut grafiese ontwerper met 'n passie vir illustrasie. Twee jaar gelede het Janine haar genader om illustrasies te doen en daarna het hulle en 'n paar ander kreatiewe vriende besluit om in April 2006 'n huismark te hou, waar hulle hul handgemaakte produkte kon verkoop.
"Vir hierdie uitstalling is my werk hoofsaaklik akriel op doek en sluit ook my digitale afdrukke in."
Joubert Stander sê: "Kuns speel al van kleins af 'n groot rol in my lewe. Ek onthou hoe ek as kleuter in die kerk op die afkondigingsblaadjie gesit en teken het. Dit was sulke vreemde, stokkerige figuurtjies met sulke dakkie hare!"
Op sy 30ste verjaarsdag gee sy vriende vir hom 'n jaar kunsklasse by Catharina de Bliquy. Na nege jaar in die reklamebordbedryf en ses maande by 'n bemarkingsfirma, roep hy die besigheidswêreld vaarwel toe en begin voltyds skilder.
Bel Maresa by (021) 853-8061 vir details.