'n Rits groot name gaan teen einde April die Sederberge saam met plaaslike kunstenaars aan die brand kom sing, praat en speel. Die elfde Cederberg Kunstefees word van Vrydag 25 tot Sondag 27 April op Clanwilliam gehou.
Soos voorheen, word 'n vername deel van die program aan die ontluiking van plaaslike talent gewy. Die gewilde sanger Emo Adams is vanjaar in beheer van hierdie produksies en gaan musiek van die legendariese Elvis deur die strate en bymekaarkomplekke laat dawer.
Die kinderteatermaestro, Niël Rademan, doen 'n produksie, Limeriekfabriek, met van die plaaslike talent.
In die literêre afdeling, val die soeklig op Hennie Aucamp. Niël Rademan en Johann Nel neem feesgangers deur middel van 'n woordkuns-kabaret - Bly te Kenne - op reis deur die lewe en werk van dié groot Afrikaanse skrywer.
Skrywers soos Annelie Botes (Sabbatsreis) en Jeanette Deacon (My heart stands in the hill) is ook op die Fees te sien. Komedies soos Wyk 14 met Frank Opperman en Marion Holm met haar splinternuwe Sussie-produksie, Cirque du Sussie, gaan gehore uit hul stoele laat tuimel van die lag. Boonop maak Dowwe Dolla na 'n lang afwesigheid ook haar opwagting met 'n nuwe produksie, Saal 10. Ander groot name op die fees is Dawid Kramer, wat deesdae selde optree, Amanda Strydom, Coenie de Villiers, Janine Neethling, Laurinda Hofmeyr en Zanta Hofmeyer.
Bel (027) 482-1090 of loer by www.cederbergfees.co.za .