DIE jaarlikse Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees vind plaas van 4 tot 13 Julie. Die fees bied talentvolle jong musici weer eens die geleentheid om hul kuns te verfyn in kamermusiek-ensembles onder die wakende oog van hoogs gerespekteerde internasionale leermeesters in klavier, perkussie, strykinstrumente, hout- en koperblaasinstrumente.
Die feesfakulteit spog met gevierde plaaslike en internasionale musici soos Daniel Rowland (viool), Eugene Osadchy (tjello), Leon Bosch (kontrabas, heel regs), Nina Schumann en Malcolm Nay (klavier) en Lecolion Washington (fagot). Peter Martens (regs) is ook die feesdirekteur.
Behalwe daaglikse etensuurkonserte is daar ses fakulteitskonserte met werke van onder andere Messiaen, Dohnanyi, Strauss, Stravinski en Mozart. Die fees eindig met konserte deur die Feessimfonie- en Konsertorkeste, bestaande uit feesdeelnemers met onderskeidelik Jonas Alber en Peter-Louis van Dijk as gasdirigente.
Die konsert op 12 Julie sluit in Van Dijk se Musicians of Bremen, met grapjas Casper de Vries as verteller. Alle konserte vind plaas in die Endlersaal, Universiteit Stellenbosch. Besprekings by Computicket. Spesiale feespasse, wat toegang bied tot alle konserte, is verkrygbaar via die webwerf www.sun.ac.za/chambermusicfestival teen R600 vir volwassenes en R440 vir studente en skoliere. Bel (021) 808-2499 of e-pos festival@sun.ac.za.