ANNELIZE OOSTHUIZEN skryf:
Eerstens, baie dankie vir 'n goeie koerant, dit is iets om na uit te sien een keer per week.
Toe ek verlede week se DistriksPos lees, het ek amper verstik in my woede, nadat ek die storie van Sasha die boerboel gelees het.
Ek kan nie glo dat die Dierebeskermingseenhede toegelaat het, dat hierdie dier so agteruit gaan nie.
Ons almal probeer ons bes om geld in te samel om hierdie instansies te help, maar dan sien 'n mens sulke skok?kende ver?hale.
Wat my die kwaadste maak, is die feit dat hulle geweet het waarvoor die eienaar die hond gebruik en dat hy haar mishandel, maar net eenvoudig kom kos aflaai het in die hoop dat hy dit vir haar sou gee.
Hoekom het hulle nie lankal die hond by hom afgeneem nie, ek glo daar was al 'n lang tyd terug rede om 'n saak van dieremishandeling teen hierdie monster te maak.
Hierdie behoort mos 'n kriminele oortreding te wees en ek hoop dat daar 'n wetsinstansie iewers is wat 'n voorbeeld van hierdie man en sy familie sal maak.
Ek ry telkemale in Kusweg tussen die Greenways-ingang en die karavaanpark en sien hoe mense hierdie arme diertjies langs die pad probeer verkoop. Ek het al gestop en geraas, maar hulle is al so dikvellig, dat dit geen effek op hulle het nie. Bel 'n mens die Dierebeskerming, is daar alewig 'n antwoordmasjien.
Bel jy die polisie, sê hulle dit is Wetstoepassing se probleem en bel jy Wetstoepassing, dan is dit kastig weer die polisie se probleem.
Is daar nie 'n wet in hierdie land wat hierdie mense kan stop nie?
Kan ons nie almal saamstaan en hulle keer om dit aan onskuldige diere te doen nie, ons is tog immers op hierdie aarde gesit om die diere te beskerm?
Daar behoort 'n wet te wees op die besit van diere in hierdie land, 'n mens behoort, soos met die aanneming van kinders, eers gekeur te word om te sien of jy waardig is om so 'n spesiale skepsel van die Here in jou besit te hê.
Ek glo daar is baie ander lede van die publiek wat net so kwaad is soos ek, oor hierdie aangeleentheid en hoop dat ons dalk as ons saamstaan iets hieraan kan doen.