HERMAN RAS skryf:
Servamus et Servimus (ons beskerm en ons dien in Latyn) is die leuse van die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Op Maandag 30 Junie om 02:30 het die SAPD egter gefaal om hul leuse te handhaaf.
Ek was tuis in my bed, toe ek die honde hoor blaf en toe ek gaan ondersoek instel, het ek twee verdagte mans in die straat op en af tussen die geparkeerde motors sien loop en aan die deure sien voel en by die voertuie se vensters sien inloer.
Ek bel toe die sektor 3 selnommer op 082 469 0608 om die verdagte mans te rapporteer, maar die selfoon lui sonder dat iemand antwoord.
Ek bel toe weer, maar weer lui dit sonder dat iemand dit antwoord.
Die belofte van die polisie dat die sektor 3 selfoon 24 uur per dag beantwoord sal word, is 'n klomp snert.
Ek bel toe die Strand SAPD en praat met 'n polisiebeampte, sy rang onbekend, en verduidelik aan hom in
Engels van die twee verdagtes en gee my selfoonnommer, naam en van en sy antwoord is "what?", nie "I beg your pardon nie", maar net "what?"
Geduldig herhaal ek toe die storie, terwyl ek die verdagtes dophou wat rustig in die straat afstap.
Ek bel toe Gordonsbaai Sekuriteit, wat binne minute daar was en die buurt deurgery het. Die polisie het nooit eers gereageer op my oproep nie.
Waar is die SAPD se sektor 3 voertuig? Waarom word sektor 3 se selfoon nie beantwoord nie?
Dis duidelik dat die SAPD in die Strand nie ernstig is oor misdaadbekamping nie, maar daar word gereeld deur hulle gesê ons moet verdagte persone en voertuie rapporteer en betrokke raak by die bekamping van misdaad.
Die polisie het die gemeenskap nodig om misdaad hok te slaan, maar as 'n landsburger iets rapporteer, gebeur daar niks nie!
Nou verstaan ek hoekom mense die wet in eie hande neem en vigilantisme begin kop uitsteek.
Ek verkwalik nie mense wat die wet in eie hande neem nie. Die polisie se onvermoë en hul traak-my-nie-agtige houding as dit kom by misdaad, skep 'n teelaarde vir vigilatisme en soos die spreekwoord sê: "Wat jy saai, sal jy maai".