"ANONIEM" van die Strand, skryf:
Waarheen is alles oppad en waar gaan dit eindig?
Ek praat van die absolute ellende waarin soveel van die sogenaamde troeteldiere (honde, katte, voëls, karperde, donkies en ja, selfs wilde diere wat vasgekeer sit in hokkies) verkeer.
Ry maar deur sekere van ons woonbuurte en aanskou die absolute verwaarlosing.
Maer, sieklike bang diere is oral te sien. Hoe kan enige mens verbyloop of elke dag daarin vaskyk en niks voel nie?
Waar is die owerhede en die verantwoordelike liggame? On?der wie resorteer hierdie euwel?
Kan daar nie strenger wetgewing ingebring en toegepas word nie?
Ek dink die wetgewing moet selfs die aanhou van troeteldiere deur sommige mense verbied.
Ek is seker die vyf persent mense wat goed omsien na hul diere, sal verstaan dat dit gaan oor die ander 95 persent wat elke dag ly.
Baie lede van die publiek en ook die polisie, weet wie en waar hondegevegte gehou word, maar doen niks daaraan nie.
Troeteldiere word gesteel vir vergoeding en om in hondegevegte gebruik te word.
Ek het ook al gesien hoe arme honde moet deurloop onder die onkun?de en wreedheid van sekuriteitswagte wat die diere oplei en veronderstel is om na hulle te kyk.
Ek sal nooit die troeteldierbedryf ondersteun deur enige diere te koop nie. Organisasies vir diere moet pro-aktief optree in plaas daarvan om te help wanneer die skade reeds gedoen is.
Daar is selfs luitone vir selfone ("ring tones") van honde wat geslaan word en tjank.
Hoe kan enige wese wat homself 'mens' noem, na so iets luister?
Alles gaan mos net oor die mens en sy behoeftes, soge?naamde regte en verwagtings.