Dawie de Wet van die Strand skryf:
U voorblad en hoofartikel van 11April, behandel die probleem met Kusweg wat gereeld verspoel. Daar word verwys na die swak herstelwerk verlede jaar en raadslid Middleton se woede daaroor.
'n Ongeleerde wyse het eenkeer gesê: "Ek weet ek kan nie 'n eier lê nie, maar ek kan gou agterkom as dit vrot is." Dis hoe ek voel oor die hantering van hierdie kwessie.
U kan maar gerus luister na die kenners waarna u aan die einde van u hoofartikel verwys. Ek woon daar naby. Die seevlak styg jaarliks en as die wind met hoogwater en springgety (soos verlede naweek) sterk suid waai, spoel die water eenvoudig oor die pad met geweldige krag. Enige herstelwerk is dus futiel. Dit sal miljoene kos om sterk keerwalle te bou en die vlak van die pad met 'n paar meter te lig. Maar is dit die beste oplossing?
Die probleem lê by die totale gebrek aan oorhoofse beplanning van die Strand se paaie, soos die volgende bewys:
Die ingang van Kusweg tussen Broadway en die Lourensrivier word tans verdubbel - net om weer vas te val in 'n enkelbaan brug;
Daar is jare gewerk om die kruising van Broadway en Hoofweg breër te maak sonder om die bottelnekke (albei strate is net enkelbaan) aan te spreek.
Verlede jaar is berig, dat Faure Marinerylaan oorgebou gaan word, wat net meer verkeer die Strand gaan laat inkom.
Die probleem is om op spitstye in en uit die Strand te kom.
Die volgende is baie belang-riker as bogenoemde projekte:
Die N2 snelweg soos beplan. Dit kan maar 'n tolpad wees mits daar instede van tolhekke elektroniese kameras is wat nommerplate lees.
Die verbreding van Broadway met minstens twee bane in elke rigting vanaf die dolfyne tot by Broadlandsweg. Die Lourensrivier-brug asook die pilare van die treinbrug is reeds jare terug voltooi vir so 'n projek.
'n Deurgangsroete vanaf Faure Marinerylaan na die voorgenome nuwe N2 sodat verkeer van die Clarens seeroete en Gordonsbaai na die N2 kan gaan.
Indien daardie projekte voltooi is, kan die gedeelte van Kusweg wat gereeld verspoel, permanent sluit. Die Strand se grootste bate is die strand.
Daarom mag Kusweg nie 'n deurpad wees nie - dis 'n diens-pad vir die strand.
Spandeer die geld vir paaie aan die regte paaie en ontwikkel die strandfront.
As duine hervestig word daar waar Kusweg gereeld verspoel, sal die ekologie ook daarby baat.