NISSAN wen vinnig veld met sy jongste toevoeging tot die plaaslike mark, in 'n segment waarin hy vroeër nie 'n mededinger gehad het nie; die mini-meerdoelige klas. Sy nuwe model is die Livina wat in beide vyf- en sewe-sitplek konfigurasie beskik-baar is en wat beslis 'n paar duike in die mark gaan maak.
Hierdie nuwe model is tipies van die dinamiese en dramatiese terugkeer na 'n paar jare van droogte, toe Renault tot Nissan se redding moes kom. Die nuwe Z-reeks modelle en die kragtige Murano 4x4 modelle het die begin van die omkeer in die maatskappy gekenmerk en die nuwe Livina is 'n bewys dat die maatskappy op 'n baie gesonde voet is.
Die Livina deel die sierrooster van die groot Murano en trek dadelik die aandag; hierdie nuwe model lyk anders as die meeste nuwe ontwerpe wat op die ou einde eintlik almal dieselfde begin lyk. Op 'n afstand is daar 'n sterk familietrek te sien.
Die nuwe nutsmodel word aangedryf deur 'n baie soepel en kragtige 1,6 liter enjin wat baie gewillig is en herinner aan die roemryke dae toe Nissan nog Datsun was en die die SSS 'n legende in sy eie tyd geword het; daardie wakker 1,6 liter enjin het immers op sy tyd 'n Oos-Afrika Safari sege agter sy naam kon skryf!
Die Livina nutsbus val nou wel nie in dieselfde verrigtingsklas as die haastige SSS nie, maar is ook nie ver daarvan verwyder nie; onder die enjinkap doen hy sy werk stilweg maar doeltreffend en is uiters spaarsaam as die bakgrootte en massa in ag geneem word.
Die krag van die enjin, 80 kW teen 6 000 rpm en 153 Nm teen 4 400 rpm, word deur 'n vyfgangratkas na die voorwiele oorgedra. Die ratkas werk seepglad en stel die Livina in staat om van 0-100 km in minder as 12 sekondes te versnel. 'n Maksimum snelheid van meer as 180 km/h is moontlik.
Wat belangrik is, is die feit dat die Livina by die bestuurder vertroue inboesem - nie net op 'n reguit teerpad nie, maar ook om draaie - daar is 'n uitstekende balans tussen verrigting en suspensie. Dit is dan ook aan die suspensiekant wat daar net genoeg fermheid in die vering is wat hom sportiewe eienskappe gee sonder om te hard geveer te wees. Met voorwielaandrywing is hy ook minder vatbaar vir dwarswinde wat hom weens sy hoogte sal kan rondgooi.
Tydens die toetsperiode in 'n stormsterk Suidoos, het hy die toets tussen Gordonsbaai en Bettysbaai met lof geslaag. Ongetwyfeld het die bonkige maar vaartbelynde voorkant ook bygedra tot sy uitstekende padgedrag. Die relatiewe lang wielafstand dra egter ook by tot sy pad- en rigtingvastheid. Boonop laat die Livina ook 'n gevoel van stewigheid en soliedheid by die bestuurder sodat hy ook wat hierdie aspek betref sy direkte konkurrente dalk tweede laat kom.
In hoeverre die meer verfynde Livina die produk van samewerking tussen Renault en Nissan is, weet ek nie verseker nie, maar die algehele produk is goed. Die uitleg van die vyf-sitplek Livina is puik gedoen; daar is gemaklike sitplek vir vyf volwassenes en 'n kattebakruimte wat enige vrou se droom is. (Die sewe-sitplek weergawe het 'n effens langer bak om meer ruimte te gee). Verder is al die veiligheidseienskappe daar: ABS-remme en lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier. Die bestuurder kan al die kontroles maklik bereik, die handrem werk puik en die bestuursposisie is uitstekend. Die toetsmodel was met 'n goeie klankstelsel toegerus. Die lugreëling het uitstekend gewerk en die hittegolf van die afgelope tyd met groot gemak geneutraliseer. Die buitespieëls word elektries beheer, so ook die syruite wat hom nog meer gerieflik maak. Die Livina beskik ook oor afstandsluiting met 'n stelsel wat of die bestuurder se deur, of al die deure oopsluit, en is 'n addisionele veiligheidsaspek.
Die Livina Acenta weeg in teen 'n baie bekostigbare R129 950 maar daar is ook 'n goedkoper standaardmodel wat teen R115 550 beskikbaar is maar byvoorbeeld net oor een lugsak voor beskik. Met al die bagasieruimte in hierdie basiese model, maak dit miskien sin om die voertuig as 'n handelsvoertuig te benut.
Die beste toets vir enige voertuig is egter 'n toetsrit.
Indien jy 'n dekade gelede laas by 'n Nissan handelaar was, is dit miskien nou die tyd om weer daar 'n draai te maak en kennis te maak met die nuwe voertuig met die Liewe Heksierige naam!