"Met die afklimslag van die vliegtuig terug na Suid-Afrika nadat ek twee jaar in Taiwain Engels gegee het, gee my broer my 'n volgepropte koevert met elke e-pos, elke poskaart en elke brief wat ek huis toe geskryf het met die opdrag: 'Sit dit in 'n boek'," vertel Katy Roberts, inwoner van Somerset-Wes. Sy is 'n bestuurder by 'n vlootbestuursmaatskappy op Stellenbosch.
Nou, drie jaar later, hou sy dié boek, A chopstix guide to Taiwan, in haar hand en glimlag sy breed as sy vertel hoeveel plesier dit haar gee as vriende en vreemdelinge haar e-pos en of raad vra oor haar verblyf in die Ooste, of vertel dat hulle pas haar boek op die webwerf gekoop het. Sy gesels luidrugtig, sommige mense in die koffiewinkel kyk om toe sy beduie van haar 24 maande in Yuanlin, 'n klein dorpie op die Taiwanese platteland. Sy was by Joy American English School. Maar net met soveel energie en passie as wat sy vir die lewe het, gaan haal Katy die storie van hoe die boek nou regtig in haar gedagtes begin vorm aanneem het na haar broer se opdrag.
"Ek het nooit kon droom dat ek 'n boek sou skryf nie. Ek het nooit voorheen 'n dagboek gehou nie, maar in Taiwan het ek begin, bloot omdat ek my ervaringe daar in die verte wou onthou, lank nadat ek terugkeer na my eie land."
Sy vertel dat sy op Stellenbosch as Matie, begin het om kort essays te skryf toe sy in 'n ouetehuis loseer het. "Ons was reg langs die NG Kerk en ek het begin om snaakse dinge wat ek uit my venster kon sien, neer te pen."
In Taiwan het sy lang ure gewerk en soms was haar dagboek-inskrywings skaars meer as 'n sin of twee. Soms het sy dae oorgeslaan, bloot te moeg om te skryf. "Ek het later my dagboek saam-geneem skool toe en as ek tyd gehad het tussen klasse, het ek gou gebeure neergeskryf, maar net omdat ek nie wou vergeet nie. In 'n land so ver verwyderd van jou eie kultuur, gebeur daar daagliks interessante goed met jou en dis onmoontlik om alles te onthou en daarom het my dagboek so 'n deel van my lewe geword," sê sy.
Hoekom sy op Taiwan besluit het? "Toe my klasmaats na skool Londen toe is vir avontuur, het ek gaan swot - BA Inligtingskunde met Frans en Engels.
"Toe ek klaar geswot het, wou ek gaan reis. Dit was in die venster van 'n koffiewinkel op Stellenbosch wat die advertensie om in die Ooste Engels te gaan gee, my oog gevang het. Ek het die nodige kursus in Kaapstad gaan doen en 'n werk in Taiwan gekry. Ek wou gaan waar dit anders is, waar ek vreemd vir die kultuur, kos, taal en die mense sou wees, want ek glo dis hoe mens jouself verryk en jou horisonne verbreed," vertel sy.
"My pa, 'n afgetrede Lugmag-offisier, het gesê Taiwanese is baie gaaf en elke keer wat hy in sy loopbaan met hulle te doen gehad het, het hulle hom verbaas met hul werkywer en vriendelikheid. Dit het my moed gegee vir die reis en leef daar." Sy het 'n hele paar keer in Taiwan amper handdoek ingegooi. Sy vertel dat sy op die laaste dag van haar eerste drie maande haar tasse gepak het, so op die bed sit en huil en huis toe verlang het.
"Mens verlang na jou vriende en familie, maar die grootste gemis is dat jy belangrike dae in geliefdes se lewens mis. Hoogtepunte word gevier sonder jou en dit kry jou soms onder. Maar toe ek rustig sit en dink het, het ek besef ek wil eerder bly en 'n sukses maak as Engelse juffrou vir die ywerige Taiwanese kindertjies."
Sy het besluit om vriende met die plaaslike mense - eerder as die ander internasionale onderwysers - te maak, haarself heeltemal deur die kultuur te laat verswelg en alles te kan leer oor die lewe daar.
"Dit was 'n ongelooflike ervaring. Ek het lewenslange vriende gemaak en selfs 'n Taiwanese familie gehad wat my 'aangeneem' het en by wie ek baie kosbare ure verwyl het."
Wat het sy die meeste van die huis gemis? "Blou lug, vars lug, kaas en die gevoel van gras onder my voete."
Wat sy die meeste geniet het in Taiwan en nou mis? "Straatverkopers op elke hoek wat varsgesnyde vrugte en koeldranke verkoop."
Wat haar sal bybly van die mense? "Iets wat my in die begin irriteer het, het toe my mooiste herinnering geword: niks is vir Taiwanese onbenullig nie, selfs al is dit 'n goedkoop gratis geskenk wat hulle by die hoekkafee kry.
Alles kry behoorlike aandag, die detail is belangrik en elke geleentheid is 'n regte do!"
Hoekom sal sy haar boek aanbeveel? "Dis die tipe gids waarna ek gesoek het voor ek vertrek het. Dis asof jy met iemand oor koffie kan gesels oor wat hulle kan verwag.
Dis 'n persoonlike boek met my ervaringe, maar elke hoofstuk het lekker vinnige feite oor Taiwan en sal jou voorberei op die kultuurskok."
Katy se boek is by www.justdone.co.za of by www.Lulu.com/JustDone te koop teen R170 per kopie. As jy raad nodig het oor onderwys gee in 'n ander land, e-pos haar by Roberts_katy@hotmail.com.