TOE die laaste leerder gegroet het, die laaste boek en pakkie bordkryt weggepak is by Jean Gant Primêre Skool op Lourensford Landgoed in 2002, het Gwen Opperman, wat hoof van die skool was vir jare, se hart gebloei. Sy het deel geword van die gemeenskap op die plaas, kinders sien grootword en blom in die arbeidsmark en weer hul kinders onderrig. Geen skool sou weer so diep in haar hart kon inkruip, weer sulke entoesiasme by haar kon aanwakker nie.
Of so het sy geglo. Maar dit was van korte duur. Gwen is pas aangestel as hoof by Temperance Town Primêre Skool op Gordonsbaai en soos sy van agter haar groot houtlessenaar gesels, is die passie en vonk vir onderwys baie duidelik.
Sy was die afgelope vier jaar by Rusthof Primêr die onderhoof.
"Ek was gewoond aan klein getalle leerders en klein getalle opvoeders en daarom was dit vir my 'n lekker uitdaging om by Rusthof Primêre Skool aan te sluit. Die maksimum leerdertal by Jean Gant destyds was 255 leerdes en by Rusthof het ons met 1 300 leerders gewerk. Ek is ook gewoond aan 'n personeel van agt, by Rusthof het ek 33 kollegas gehad!"
Gwen vertel dat sy veral gemoeid was met die kurrikulum-afdeling van die skool. Sy het so tussen die skoolhou deur, ook haar Honneursgraad in Opvoedkunde aan die Noordwes Universiteit voltooi. Saans gee sy ook aandskool by Hoërskool Gordon op Somerset-Wes - Lewensoriëntering en Kuns en Kultuur vir graad tiens en die bevrediging wat volwasse onderrig haar gee, borrel oor haar lippe as sy vertel van die kreatiwiteit waarmee volwassenes die vakke van hoërskoolleerders aanpak. "Dis vir my so lekker om mense te sien leer en groei. Vlakteplaas se ouers het by my aandskool geloop en nou is hul kinders hier by my in die skool. Ons skool is nou 290 leerders en agt opvoeders sterk.
"By Temperance Town is die omstandighede vir my baie soortgelyk as dié waarin ek by Jean Gant gewerk het. Ek voel regtig goed toegerus vir my taak by hierdie skool en is opgewonde oor die toekoms. Ek deel graag my ervaring met kollegas en sal die kennis wat ek opgedoen het, toepas tot voordeel van die leerders en die opvoeders," sê sy.
Gwen sê sy het baie drome vir die skool, maar armoede is 'n onderliggende teenwoordigheid wat in ag geneem moet word by enige beplanning.
"Die gemeenskap - nie net ons ouers nie - ondersteun ons geweldig. Soos ons hier sit en gesels, is Gordonsbaai se Rotariërs hier langsaan besig om vir die leerders kos te berei. Skenkings en welwillendheid reën neer op ons en die ingesteldheid is positief, wat groei soveel makliker maak."
Sy sê finansies gaan nie in die pad staan van die skool se toekoms nie en glo die onderskraging van die ouers sal hulle op die wenpad plaas.
Gwen is vir meer as drie dekades in die onderwys en bring 'n magdom idees saam met haar. Sy glo aan die belegging in kinders en oud-leerders kan getuig dat dit 'n vrou is wat die ekstra myl - en meer - sal stap.
"My droom vir die skool is om die gesukkel met lees en syferkennis uit die weg te ruim. As ons die leerders se spel- en leesvermoë en hul syferkennis kan verbeter, het ons al baie bereik. Ons skool se leuse is 'Kennis is mag' en daarop moet ons voortbou," vertel sy.
Leerders het sommer binne die eerste week onder haar hoofskap deelgeneem aan die DistriksPos se Koerant in Onderwys-projek by die NH Lord Charles hotel en ook aan die Imibala Hondeskou. Gwen glo dat leerders blootgestel moet word aan geleenthede. Sy is ook 'n groot voorstander van noue samewerking met buurskole.
Twee drome wat sy vir die skool het, is 'n eie saal en ook 'n pawiljoen vir die rugbyveld. Sy glo met die samewerking van ouers, leerders en opvoeders kan die drome 'n realiteit word. Sy wil ook graag van aanstaande jaar 'n graad R-klas by die skool vestig.
Behalwe haar voltydse pos by die laerskool, haar aandskoolklasse en haar raadgewing vir ander skole, is Gwen ook betrokke as moderator vir die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vir volwasse opleiding en 'n lid van die Suid-Afrikaanse Prinsipale Assosiasie. Sy glo haar blootstelling daar en ook die skolebesoeke wat sy gereeld onderneem, hou haar in voeling met veranderinge in die onderwys en het haar ook geleer om 'n beter leier te wees.
Haar onderwysloopbaan is meer as 30 jaar lank en het draaie gegooi by Firgrove Primêr, Danie Ackermann, Jean Gant, Temperance Town en Rusthof, voor sy nou weer op 16 Julie terug is op Gordonsbaai.
Gevra hoe sy haarself sien, kom die antwoord maklik: "'n Aangesteekte kers verloor niks as hy ander aansteek nie.
Dis ek daai." Gwen glo dat jy uit jou sterkpunte moet lei en sy sê die akademiese-, sport- en kulturele fondasies by Temperance Town is goed gelê, die onderrigstene moet net stewig daarop gebou word.
Godfrey Julies, hoof by Rusthof Primêr, sê Gwen se vertrek het 'n groot leemte by sy skool gelaat. "Dit was 'n voorreg om met Gwen te werk, sy is 'n raakvatter wat nie geskroom het om haar jare se ervaring met ons te deel nie. Sy was veral van onskatbare waarde met die nuwe evalueringsproses en baie akademies gedrewe."
Hy sê Gwen sal 'n groot aanwins wees vir die ouergemeenskap van Temperance Town en dat sy 'n onderwysmens deur en deur is. "Sy was 'n steunpilaar by ons skool en ek glo sy sal dit by Temperance Town ook wees."