Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Helderberg
Front Page
News
  • Local
  • Business
  • Sport/Angling
  • Real Estate
  • Entertainment
  • Business Index
    Classifieds
    Forum
    Photo Gallery
    Tourism
  • Maps
  • Helderberg Info
    Lifestyle
  • Motoring
  • Gardening
  • Features
  • Contact Us
    News24
    Smalls24
     
    About Us Search Advertising
      Brought to you by:

    13/09/2007 11:05 AM - (SA)
    Joubert se miniature sorg vir weghol-sukses
    140907


    Die son breek hier en daar deur die wolke en val in silwer strale oor sy skouer, op die klein olieverfwerkie waarmee hy besig is. Die kwas se punt is skaars dikker as 'n potlood en die miniatuurwerk word maklik deur sy hand omvou, maar aan detail en emosie is daar geen tekort binne die beperkende raam van 5cm by 5cm nie. Joubert Stander van die Strand het pas sy eerste solo-uitstalling agter die rug en werk nou weer volstoom vir sy volgende een - dié keer deel hy egter die galery met Janine de Waal en haar porseleinhase en Alta Stegmann se illustrasies. Die driemanskap se werk is van 1 tot 31 Desember by Rialto Kunsgalery in Millsstraat te sien.

    Kuns speel van kleins af 'n rol in sy lewe. Hy onthou hoe hy altyd in die kerk op die afkondigingsblaadjie prentjies geteken het terwyl die diens aan die gang was.

    Maar dit was eers teen die einde van sy skoolloopbaan dat hy begin kunsklasse neem het by Millsstraat Kunsskool (nou Natural Learning Academy). "Op daardie stadium was ek nog so onseker oor my toekoms, my loopbaanbesluite het wipplank gery tussen sendeling en argitek!" vertel hy laggende.

    Hy het uiteindelik kuns gaan studeer, maar grafies en pottebakkery was sy hoofvakke en Joubert sê die rigiede aspekte van grafiese kuns was vir hom 'n ontnugtering. Hy het egter baie oor dissipline en struktuur geleer by die grafiese gedeeltes van sy kursus.

    Na die voltooiing van sy studies, het hy vir agt maande sy kop gaan skoonmaak, eers in Upington en toe Londen en in die reklamebedryf kom werk met sy terugkeer.

    Iewers in sy bloed het ware kuns egter bly skuil en sy rusteloosheid is verder aangewakker toe vriende vir hom 'n jaar se kunsklasse by die bekende kunstenaar, Catharina de Bliquy gee. "Sy was toe al vir 15 jaar my gunsteling-lewende kunstenaar en dit was een van my drome om haar te ontmoet. Die klasse en lewenslesse was wonderlik en op die koop toe, kry ek toe 'n kosbare pêl by," vertel hy.

    Olieverf was nog altyd een van sy gunsteling mediums, hoewel hy nooit sy hand daaraan gewaag het nie.

    By Catharina (of Kitty soos hy haar noem), het hy die geleentheid gekry om in olie te werk en sy het hom ook geleer om uit sy kop te teken en nie ander prente af te teken nie. Toe hy een aand by die huis kom, was die landskapskildery teen sy muur wat hy etlike jare vroëer geverf het, vir hom weer eens te veel en hy verf dit toe met 'n portret van 'n vrou en sy hang vandag nog in sy sitkamer. Die liefdesverhouding met olieverf is ook toe gebore.

    Na bykans 'n dekade van werk vir 'n baas, kwaai kliënte en spertye, besluit Joubert toe om sy korporatiewe bande te sny en sy eie potjie te krap, vanuit sy woonstel in die Strand. Hy verf nou die afgelope jaar voltyds en kyk nie een oomblik terug nie.

    Maklik was dit nie, want die lewe van 'n kunstenaar kom nie met 'n aftreeplan, medies en 'n salaristjek met 30 dae intervalle nie.

    Hy vertel: "'n Mens is bang vir die onbekende, jy is bang dat jy nie gaan geldmaak nie, jou rekeninge gaan jou oorweldig en jou deurmatjie vol lê, maar ek dink mens is die bangste vir wat ander mense gaan sê as jy jou werk los.

    Nou geniet ek dit te veel om enigsins om te gee!" Sy waagmoed het baie met Kitty te doen, vertel Joubert. Hy onthou dat sy met sy eerste klas vir hom gesê het dat hy nie moet bang wees om 'n fout te maak nie, want almal is gekke. "Vandat ek skilder, voel ek of ek mens geword het, al het ek nog 'n baie ver kunspad om te stap."

    Die idee van miniature het ontstaan nadat Catharina 'n miniatuur-uitstalling gehou het. Joubert het een dag by haar gekuier en op die tafel stukkies van 'n skaakbord gesien. Hy het een opgetel, huis toe geneem en sedertdien is die blokkies wat heelwat kleiner as 'n sigaretboksie is, sy spesialiteit.

    Hy teken die mense wat hy in sy verbeelding in 'n klein dorpie "teëgekom" het. Elkeen het 'n storie en soos hy verf, "vertel" die klein gesiggies al hul geheime in sy oor.

    Joubert lag en sê soms is die kunswerk klaar en die stemmetjie nog stil, dan lê hy dit eenkant neer en vra dat die karaktertjie met hom moet praat. Só het elkeen 'n storie as dit geraam word. Musiek speel 'n deurslaggewende rol in sy kuns en baie van sy karakters het in sy verbeelding lewe gekry met onder meer die melodieë van Amanda Strydom wat sy ateljee tot barstens toe vul.

    Sy eerste uitstalling was eintlik 'n toevalligheid, vertel Joubert. Die eienaar van Rialto Kunsgalery in die Strand, Maresa Volsteedt, het hom genooi om daar uit te stal, maar sy is volbespreek tot Desember. Catharina het hom toe aangemoedig om iets in die winter uit te stal, om die ys te breek en sy senuwees te laat bedaar oor sy eie uitstalling. Catharina bly een van sy grootste motiveerders en saam met Maresa se kreatiewe oog vir rame, het hy meer as 40 werke voltooi en geraam.

    Aleit Swanepoel en sy vrou, Madri, het hul huis in Somerset-Wes beskikbaar gestel en so tussen die liefde van vriende en familie, kon hy sy eerste uitstalling ervaar.

    "Ek was bang, mens gooi jou siel oop en kritiek is nooit lekker nie, ek is bowendien 'n baie privaat mens, maar om uit te stal was 'n ander droom van my en hoewel ek skrikkerig was of my werk 'goed genoeg' sal wees, het ek dit baie geniet. Nou hang van my werk ook in die Orange Mill in Paarl."

    Hoekom sulke klein werke? "Die kleintjies is 'n uitbeelding van die klein seëninge in my lewe, in elkeen se lewe."

    Joubert sê elke mens moet meer in homself glo en die selfkritiek so nou en dan agtertoe skuif. Sy ouers, Pieter en Lèonore, is 'n groot bron van ondersteuning en sy vriende se onderskraging en kunsklasse by Kitty het hom gebring waar hy nou is.

    "Waag meer. My ma het met die uitstalling vir my 'n Bybelversie gegee, wat ek nou in my beursie dra. Dit kom daarop neer dat God elke ding gemaak het dat dit op 'n bepaalde tyd inpas. Ek glo daaraan en ek glo ook dat mens soms moet stil word en net waarneem watter mooi om jou gebeur." Bel Joubert by 082 2267 569 vir meer inligting.




    Back to top     Back to top

    © Tel. (021) 853-0211 Fax. (021) 853-0234

    2003 Somerset Press (Pty) Ltd on all information and photographs.