In 2004 het You, Huisgenoot, Drum, Human & Rousseau Uitgewers, SABC Education en Radiosondergrense 'n skryf-inisiatief bekendgestel: nooi jong skrywers om deel te neem aan 'n multi-media-skryfskool, loods 'n skryfkompetisie vir skrywers jonger as 35 jaar en publiseer die beste inskrywings. 'n Strand-inwoner, Derick Muller, het weggestap met die eerste prys in die Afrikaanse afdeling en sy boek, Vuil skottelgoed, is pas bekend gestel.
Van 2004 tot 2006 is daar Woensdagaande op RSG se jeugprogram, Zip, ?n skryfskool aangebied en in April 2005 is die mees verteenwoordigende skryfkompetisie vir jong, ongepubliseerde aspirant-skrywers geloods.
Deur die loop van die jaar het die radioprogram voortgegaan, en wenke en werkswinkels is op SABC se opvoedkundige programme uitgesaai en gepubliseer in You, Huisgenoot en Drum. 'n Totaal van 872 inskrywings in drie kategorieë (ope, graad 7-9 en graad 4-6 vir die kompetisie, Ek is 'n skrywer, is ontvang.
Die stories, geskryf in Afrikaans, Engels en die Sotho- en Nguni-tale, het die enorme talent van die jong deelnemers weerspieël. Die wenners is in Oktober 2006 aangekondig en daar is besluit om die Afrikaanse en Engelse wen-inskrywings te publiseer.
Die inskrywings in die Afrikaans-kategorie was van so 'n hoë gehalte dat Human & Rousseau besluit het om 'n verdere drie manuskripte te publiseer. Sedert Januarie 2007 het elkeen van die skrywers nou saam met 'n redakteur gewerk om die inskrywings persklaar te maak en om hul skryftalent te slyp.
Dit is die eerste maal dat 'n uitgewer soveel tyd, geld en hulpbronne op so 'n skaal op jong talent belê. Die resultaat? Vyf romans wat die grens tussen jeug- en volwasse fiksie oorsteek. Vyf romans wat die jong stemme van jong Suid-Afrikaners weerspieël.
Sing in 'n rockgroep
Vuil skottelgoed deur Derick Muller was die wenner van die Afrikaans-kategorie. Derick is 'n 23-jarige Strand-inwoner wat werk as tegniese vervaardiger. Hy sing ook in 'n rockgroep. Dit is 'n punk-roman, en die taalgebruik kom uit die rowwe wêrelde van rockmusikante en skaatsplankryers. Dit is ook 'n grootwordverhaal waarin die hoofkarakter, ene Bastian, gelouter word in die "moshpit" van die Kaapse naglewe.
Bastian rebelleer teen sy ouers se voorneme om hom na matriek op Stellenbosch in die regte te laat studeer en loop weg Kaapstad toe. In die Kaap kry hy werk by 'n skaatsplank-winkel en word lid van 'n punkgroep.
Sy bestaan is 'n maalkolk van drank, dwelms, seks, hard rock en nog harder patytjies. Net voordat hy heeltemal fyngemaal word, sien hy die lig en gaan terug na sy ouers in Kimberley. Hoewel sy ouers bly is om hom terug te hê, is hulle nog so kleinburgerlik soos wat hulle was. Is daar 'n uitweg?
The Goblet Club deur SA Partridge was die wenner van die Engelse kategorie. Dit is 'n Gotiese roman in die tradisie van die Harry Potter-reeks, maar dit het eg-Suid-Afrikaanse kenmerke en speel af in 'n kosskool iewers op die platteland. Toe Mark na die seunskool St. Matthew's gestuur word, was dit maar net nog 'n straf in al die jare dat hy hom swak gedra het. Hierdie skool, wat met 'n ysterhand deur die sinistere skoolhoof mnr. Crabtree bestuur word, het 'n reputasie dat dit seuns soos hy regruk. Hy het egter skaars daar aangekom of hy word gedompel in wêreld van tergende vrae: wat is mnr. Crabtree se geheim? Saam met sy vriende, Trent, Vlad, en Francis, probeer Mark antwoorde kry. Hulle is die lede van die Goblet Club, 'n geheime vereniging wat hul toewy aan navorsing oor en die ontwikkeling van gifstowwe. Hulle begin hul giftoetse deur ontslae te raak van 'n rotteplaag in die skool, maar as Mark al dieper betrek word, begin die viertal dink aan moord...
Hemelhel deur Marthinus de Beer was een van die finaliste. Dit is 'n unieke weergawe van die tydperk wat 'n jong depressielyer in 'n Bloemfonteinse sorgeenheid vir depressiewes deurgebring het. Die verteller is 'n man in sy vroeë twintigs. Deel van sy probleem is 'n vernietigend-obsessiewe gay verhouding. Hy is 'n strawwe roker, gemaak hardekwas, maar eintlik oorsensitief, bang en bleeksielerig. Die leser sien en ervaar die wêreld van hierdie kliniek deur die sintuie van hierdie jong man.
Oos deur Marion Erskine was ook een van die finaliste.
Die verteller, Louis, kom in Taiwan aan om vir laerskoolleerlinge Engels te gee. Sy enigste kontak in die vreemde land is 'n internet-vriend wat hom bekend gestel het aan die moontlikheid om in Taiwan Engels te gee. Deur hierdie kontak kom hy in aanraking met 'n klomp jong Suid-Afrikaners en hul Chinese vriende, en dit is hoe hy bekend gestel word aan 'n vreemde kultuur en ge-woontes wat vir hom die raarste gewoontes is wat hy nog teëgekom het.
Hierdie ontdekkings word egter onderlê deur 'n dieper en ook 'n donkerder soektog.
Vyf ses skerp mes deur Brigette Labuschagne was een van die finaliste. Die boek is 'n tragiese liefdesverhaal wat in die sestigerjare, te midde van die gedwonge verskuiwings, in Distrik Ses afspeel. Die hoofkarakter, Abbi, is 'n skrander meisie uit 'n arm gesin.
As jong kind raak Abbi bevriend met die seun van die predikant van die Morawiese Kerk. Die vriend-skap ontwikkel in 'n liefdesverhouding. Abbi het aanvanklik geen begrip daarvoor dat haar verhouding met die wit seun ongewoon en selfs ongewens is. En uiteindelik gebeur die haas onvermydelike. Die wit seun word in 'n lokval gelei en vermoor. Die jonge Abbi se wêreld stort in duie. Nie net as gevolg van die feit dat haar geliefde vermoor is nie, maar ook omdat haar broer op een of ander wyse aandadig was.