Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Error processing SSI file
Front Page
News
  • Local
  • Business
  • Sport/Angling
  • Real Estate
  • Entertainment
  • Business Index
    Classifieds
    Forum
    Photo Gallery
    Tourism
  • Maps
  • Helderberg Info
    Lifestyle
  • Motoring
  • Gardening
  • Features
  • Contact Us
    News24
    Smalls24
     
    About Us Search Advertising
      Brought to you by:

    22/11/2007 12:22 PM - (SA)
    Coreen trap Wes-Kaap plat vir Bright Lights
    221107


    TOE Coreen Vlok as vrywilliger betrokke geraak het by die ACVV Bright Lights invalsentrum vir hoë risiko kinders op Somerset-Wes, het sy nooit kon droom dat sy vier jaar later 500 km per fiets sou aflê om mense in die Helderberg bewus te maak van dié organisasie nie. Nou staan sy op die vooraand van 'n ongelooflike avontuur - een wat nie net vir haar 'n persoonlike prestasie gaan wees nie, maar hopelik ook die lewens van straatkinders in die Helderberg sal verbeter.

    Dié ma van Somerset-Wes vertel opgewonde van haar werk by Bright Lights en haar droom om deur middel van die Great Western Cape Bike Ride 500 mense te motiveer om aan te sluit by die invalsentrum se ondersteunergroep.

    "Ek het 'n geruime tyd gelede betrokke geraak by Bright Lights en aanvanklik was die grootste uitdaging om nie in trane uit te bars elke keer as ek daar kom nie - maar so groei mens," vertel sy.

    Vandag is sy lid van hul bestuurskomitee en werk sy ywerig om die wolf van die sentrum se deur weg te hou.

    Sy sê al gaan dit soms maar broekskeur weens beperkte finansies, doen die personeel uitstekende werk met die kinders en sal Helderberg-inwoners eers die verskil wat hulle maak, agterkom wanneer die sentrum sy deure moet sluit en al die kinders weer op straat sit.

    Coreen glo egter een van Bright Lights se sterkpunte, is dat daar 'n goeie bestuurstruktuur is, en dat iets in plek gestel sal moet word sodat daar 'n volhoubare inkomste ook is.

    "Indien jy nog altyd iets vir straatkinders wou doen - MOENIE is my motto: moenie geld of kos vir 'n kind op straat gee nie. Moenie dat hy/sy daar vasgeketting word en 'n teiken vir dwelmhandelaars en ander misbruikers word nie. Help my eerder om hulle te help en sluit aan by die Ondersteunersgroep.

    "Ek gaan van 24 November tot 2 Desember van Mosselbaai tot in Stellenbosch fiets ry om sodoende mense in die Helderberg bewus te maak van Bright Lights. Die afstand wat ek moet trap is 500 km en ek gaan poog om 500 nuwe lede vir die ondersteunersgroep te werf. Elke kilometer maak 'n verskil en elke ondersteuner maak 'n verskil."

    Die Great Western Cape Bike Ride is verlede jaar vir die eerste keer aangebied deur die Great Event Company. 'n Roete van ongeveer 500 km word oor nege dae gedek met een rusdag tussen-in. Fietsryers ry sowat 60 km per dag en dorpe soos Herbertsdale, Heidelberg, McGregor en Villiersdorp word besoek.

    Een van die organiseerders se mikpunte, is om ontwikkelingsprojekte aan te moedig en hulle nooi deelnemers om die fietstoer te gebruik om vir hul gunsteling liefdadigheidsorganisasies geld in te samel.

    Al is sy bietjie senuweeagtig, omdat sy nie eintlik weet wat om langs die pad te verwag nie, glo Coreen dat sy fiks genoeg is om die fietstoer te voltooi. Sy oefen gereeld saam met haar man, Gerrit, 'n ervare bergfietsryer, en sê sy is gelukkig gebore met 'n lang asem.

    "Die roete is blykbaar glad nie so erg soos wat dit klink nie en die pret om dit saam met sowat 500 ander mense te doen, is wat dit fantasties gaan maak! My motto vir die toer is: It's not a race, it's grace."

    Mense of besighede wat vir Bright Lights wil ondersteun, kan vir 'n jaar by die ondersteunersgroep aansluit teen R20, R40 of R100 per maand. Die betalingsmetode is volgens jou voorkeur. Lede staan ook die kans om iets terug te kry wanneer 'n loting aan die einde van elke kwartaal gehou word. Vir verdere besonderhede, bel Bettie of André by die Bright Lightskantoor: (021) 851-2414 of stuur 'n e-pos aan Coreen by gjvlok@iafrica.com met jou naam en van en vra vir 'n lidnommer.




    Back to top     Back to top

    © Tel. (021) 853-0211 Fax. (021) 853-0234

    2003 Somerset Press (Pty) Ltd on all information and photographs.