Beeld | Die Burger | Volksblad | Rapport | Sake | Finansies & Tegniek | LandbouWeekblad |
Huisgenoot
| Dit | Sarie | Bruid24 | LitNet | KykNet | Gemeenskapskoerante
 

Helderberg
Front Page
News
  • Local
  • Business
  • Sport/Angling
  • Real Estate
  • Entertainment
  • Business Index
    Classifieds
    Forum
    Photo Gallery
    Tourism
  • Maps
  • Helderberg Info
    Lifestyle
  • Motoring
  • Gardening
  • Features
  • Contact Us
    News24
    Smalls24
     
    About Us Search Advertising
      Brought to you by:

    07/02/2008 02:26 PM - (SA)
    'Koos Sas' is 'n tawwe uitdaging vir Loukmaan
    08/02/08


    EK probeer om 'n onderhoud met die ster van Die Ballade van Koos Sas te reël vir skuins voor 10:00 een Donderdagoggend. "Jammer," laat hoor sy publisiteitsbestuurder, "hy slaap dan nog." Ek wil-wil my vererg vir sulke arrogansie, maar bedink my vinnig toe ek na sy program vir die afgelope agt weke kyk. Hoor jy die naam Loukmaan Adams, dink jy onwillekeurig aan Kat and the Kings en Ghoema, maar hierdie jong akteur se CV sluit baie meer optredes in, om van pryse vir sy werk, nie te praat nie. Boonop het hy pas die produksie, Kramer Petersen Songbook, by die Baxter voltooi, terwyl hy bedags aan Koos Sas repeteer het. Tussen dit alles deur het hy sy lyf sepie-akteur gehou vir die nuwe mini-reeks, Malan & Kie vir SABC wat in April vanjaar uitgesaai word. Hy was ook op die kassie in die komedie, Alie Barber.

    Koos Sas is 'n opdragstuk van die vyfde jaarlikse Die Burger Suidoosterfees wat tans by Kunstekaap op die planke is. Die fees sluit kuns oor alle mediums in en die afgelope naweek was dit 'n miernes van bedrywighede in Kaapstad. Loukmaan speel die naamrol van dié berugte Boesman skaapdief uit die vorige eeu, daar uit die Springbok-omgewing, wat enige perd moeg kon draf. Hy is in 1922 op die plaas Droodaap doodgeskiet, nadat hy vele male uit die tronk ontsnap het.

    "Toe ek hoor David pak vir Koos Sas aan, het ek gevra om deel te wees van die produksie. Ek het gedink hy sal my deel van die orkes maak en ek sal rustig my drommetjies sit en speel. Nie besef ek gaan die hoofrol speel en boonop moet leer dans dat my bene nie soos my eie voel nie!" vertel Loukmaan.

    Verskeie toekennings
    Hy is besig - voor die kamera, op die verhoog as akteur en musikant. Sy verhoog-loopbaan het op negejarige ouderdom begin toe hy in die eerste Taliep Petersen en David Kramer musiekblyspel, District Six, opgetree het.

    Sy spieëltafel kreun onder die toekennings: Die 2007 Naledi-toekenning vir beste oorspronklike choreografie vir Ghoema; 'n FNB Vita Toekenning; in 1999 is hy genomineer vir die Tony en Olivier-toekennings vir sy bydrae tot die choreografie van Kat and the Kings. Hy wen 'n Olivier Toekenning vir sy spel in Kat and the Kings en is die enigste akteur van die Kat and Kings-groep, wat vir die volle tien jaar wat die produksie op die planke was, daarin gespeel het - dit sluit optredes in die Londense West End en Broadway in. En dis maar net 'n paar van sy hoogtepunte, hoewel hy die Olivier Toekenning uitsonder as een wat na aan die hart lê.

    "Koos Sas is elke aand vir my 'n geweldige uitdaging.

    Die danspassies is vreemd vir my voete en knieë en my oor sukkel soms met die lirieke. Maar ek geniet die produksie geweldig. Ek vra elke aand vir my knieë om tog saam te werk en hul slag te wys, want ek weet die mense hou my dop om te sien of ek die Riel reg dans!"

    Loukmaan sê in die repetisies wou hy sommer hier en daar 'n eie passie ingooi en 'n "Oh baby" koortjie byvoeg by die woorde, maar David het hom op 'n kort riem gehou.

    "Hy het aanmekaar vir my gesê ek moet my pelvis stilhou en vir my die DVD van die Kammieskroon of daar iewers, se Rielkampioenskappe gegee om te kyk!" Sy tong knoop ook nog soms om die uitdrukkings as hy diep in sy geliefde Lenie (Natalie Cervati) se oë moet kyk en vir haar moet sing dat sy sy "vygie" of sy "bokkie" is. Hy sê die rol het hom totaal uit sy gemaksone getrek, maar hy is dankbaar daarvoor, dit verbreed sy horisonne en maak van hom 'n meer veelsydige akteur.

    So tussen sy rolle op die verhoog, is hy ook een van 'n vyfmangroep, JAG, wat veral in Johannesburg, Oos-Londen, Port Elizabeth en Bloemfontein optree. Al die lede van die groep het hul eie vermaakloopbane, so die groep tree net saam op as almal 'n blaaskansie van hul onderskeie toneelstukke neem.

    Loukmaan vertel dat hulle ook onlangs 'n DVD van hul optrede gemaak het en sowat 100 verkoop het. "Maar ek stap omtrent nie by 'n vertoning uit sonder om te hoor dat dié en dié ook 'n DVD van ons het nie. Voel vir my daar is honderde van dié DVD in omloop..." vertel hy met 'n groot glimlag. Loukmaan se broer is Emo Adams, een van die ander gesigte wat sinoniem is met David Kramer se produksies.

    Emo en Loukmaan het van kleins af van hul huis in Mitchell's Plain met die kunste te doen gehad, met hul pa se toneelgroep, Kinders van die Ses, wat kinders met toneel ophef.

    Ghoema was ook van sy teaterhoogtepunte. "Ek hou van sulke produksies wat opvoedkundig, pret en vermaak bied en sommer kortweg as 'n funky geskiedenisles genoem kan word," vertel hy in sy Kaaps waar die tong klap en die Engels en Afrikaanse woorde mekaar so hand aan hand in die sinne inneem."

    Die Ballade van Koos Sas speel by die Kunstekaap Teater op Donderdag 7 Februarie om 20:00; Saterdag 9 Februarie om 13:00 en twee addisionele optredes is op Vrydag 15 en Saterdag 16 Februarie




    Back to top     Back to top

    © Tel. (021) 853-0211 Fax. (021) 853-0234

    2003 Somerset Press (Pty) Ltd on all information and photographs.