DIE styging in die brandstofprys Woensdag is volgens ekonome nie die laaste nie en daar wag nog skokke op verbruikers wêreldwyd.
Behalwe die styging in die brandstofprys, wag daar ook nog 'n moontlike rentekoersverhoging, wat ook deur verbruikers geabsorbeer moet word.
Dit kos nou R10,35 vir 'n liter diesel en R9,25 vir 'n liter petrol.
Die nuwe styging word toegeskryf aan die groot aanvraag na olie in die wêreld. Daar word voorspel dat die prys van ru-olie tot so hoog as 200 dollar per vat kan styg.
Motoriste het hierdie week geskarrel om hul voertuie se tenke vol te maak en dit lyk of die vulstasies genoeg voorraad gehad het.
'n Groot vervoerkontrakteur in Somerset-Wes wat boumateriaal vervoer, sê die gevolge van die styging in die dieselprys het sy brandstofkoste met R150 000 per maand verhoog, waarvoor daar nie begroot is nie. Hy sê daar is ook 'n afname in die boubedryf.
Hy sê dat indien daar nog stygings in die brandstofprys kom, werksgeleenthede in die slag gaan bly.
Daar kan nog nie vasgestel word wat die werklike impak van die petrolprys-verhoging vir die ekonomie van die Helderberg inhou nie, maar verskeie sakemense in die kleinhandel het gemengde reaksie hieroor.
Grant Goodwin, algemene bestuurder van Friedman en Cohen-winkelsentrum in die Strand, sê hulle kan nog nie die uitwerking voel nie, maar dat daar kliënte is wat meer versigtig is oor hoe hulle hul geld spandeer.
Mandy Bellamy, bestuurder van die Somerset Mall, sê sake verloop goed by die winkelsentrum en die kleinhandelwinkels soos Pick 'n Pay en Woolworths asook die restaurante en koffiewinkels doen goeie sake.
Sy sê daar is 'n afname in die spandering van die middel inkomstegroep, wat 80 persent van hul klandisie uitmaak, maar die hoë inkomste groep wat 20 persent uitmaak, maak op vir dit wat nie deur die middel inkomstegroep spandeer word nie.
Die meubelbedryf trek ietwat swaarder en dit is veral winkels in Somerset-Wes wat swaarkry.
Verkoopsmanne wat met die DistriksPos gepraat het, sê die nuwe kredietwet hang soos 'n albatros om hul nekke.
Wat die huismark betref, sê Farrol Abrahams van RE/MAX se agentskap in Macassar, dat hulle die afgelope tyd verskeie mense se huise in die gebiede van Rusthof, South Fork en Macassar gewaardeer het wat hul huise in die mark gesit het omdat hulle nie meer die verbande kan bekostig nie.
Hy meen met die verwagte rentekoersverhogings wat voorspel word, gaan nog mense hul eiendomme in die mark sit.