Die Eikestadnuus is net die tweede Suid-Afrikaanse streekskoerant wat op die Internet gaan, maar die Stellenbosch Virtual Village is allesbehalwe net 'n Internetweergawe van die gedrukte koerant.
Streekkoerante wêreldwyd kan nou 'n groter rol in hul gemeenskap speel, want hulle vul hul nuus aan op die Internet met 'n besonder ryk bron van gemeenskapsinligting.
Die leser of inwoner kry hier inligting van 'n meer blywende en selfs noodsaaklike aard. Soek hy 'n bepaalde adres van 'n organisasie, skool of selfs van sy raadslid, kan hy
omvattende A-Z-lyste raadpleeg. Met al die inligting op die Wêreldwye Web beskikbaar, kan 'n Gautenger wat Stellenbosch wil besoek en verblyf soek, 'n volledige lys van gastehuise met hul adresse kry.
Kort voor lank sal selfs die weeklikse nuus deur vinnig veranderende inligting aangevul word wat net via die Internet bekom kan word. 'n Paar voorbeelde: die kunskalender sal nie net uitstallings in museums lys nie, maar ook voorbeelde van die werke wat vertoon word. Jy kan die huis van jou keuse uitsoek in die eiendomsafdeling, want 'n eiendomsagent kan pleks van een foto van 'n huis in die gedrukte koerant, selfs vier of meer kan wys op die Internet.
Soos die District Mail met hul Helderberg Virtual Village gou agtergekom het, raak dit vir inwoners en besoekers nou makliker as vantevore om te besluit wat om oor 'n naweek te doen. Onder Vermaak verskyn 'n volledige lys van restaurante met adresse en telefoonnommers en binnekort selfs volledige spyskaarte . En as jy liewers in die buitelug wil wees, sal daar eersdaags meer inligting oor stap- of bergfietsroetes verskyn. Dit is veel meer as wat die Eikestadnuus weekliks kan bied.
In die Stellenbosch Virtual Village sal hiperskakels jou lei na ander "plaaslike" webblaaie. So jy uitkom by die Universiteit van Stellenbosch en 'n blad aantref met inligting wat strek van kampusnuus tot akademiese en studentebedrywighede. In die skole-afdeling spog Paul Roos-Gimnasium met 'n eie webblad, een van net 'n paar skole in die Wes-Kaap.
Indien dit waar is dat mense 80 persent van hul tyd (en hul geld!) binne 'n radius van 15 tot 25 km van hul woning bestee, gaan die Stellenbosch Virtual Village met al sy gemeenskapsinligting die ideale gids wees om voortaan te raadpleeg.