DIE eerste seuns- tennisspan van Hoërskool Stellenbosch het weer vanjaar aan die gesogde Wayne Ferreira Tennistoernooi in Johannesburg, van 8 ? 10 Mei, deelgeneem.
Die span het bestaan uit: Japie de Klerk, Wihan Lategan, Willem Frans Marais (kaptein), Ben Reynecke, Adolf Lategan, Adriaan du Toit en Niel Koch.
Veertien skole het deelgeneem in die kompetisie wat in 'n A- en B-afdeling ingedeel is. Hoërskool Stellenbosch wen hul groep in die A-afdeling nadat Ben Reynecke en Adolf Lategan die deurslaggewende dubbelspelwedstryd teen St. Stithians van Johannesburg met 5 - 4 wen.
In die semifinaal speel die Stellenbossers teen Clapham Pretoria, 2007 se verdedigende kam?pioene. Dié span het sterk spelers van regoor Afrika en oefen voltyds by die ITF in Pretoria.
In 'n titaniese stryd, met baie wedstryde wat eers in die derde stelle beslis is, wen Stellies met 5 - 3.
Vir die eerste keer in Hoërskool Stellenbosch se geskiedenis wen hulle die toernooi, wat vanjaar vir die 15de keer aangebied is. Hulle reken in die finaal af met St. Stithians, 2007 se naaswenners, en wen 5 -1.
Die spelers van Hoërskool Stellenbosch lewer ?n skitterende vertoning en beslis die wedstryd sommer in die enkelspel.
Tennis van hoogstaande gehalte is gespeel en die spelers se gedrag was iets om op trots te wees.
Japie de Klerk en Wihan Lategan was onoorwonne in hul onderskeie 1ste en 2de enkelspelposisies.
Volgens Pietie Norval, hoofafrigter van Spier Tennis Akademie, het dié Akademie in 2003 by Hoërskool Stellenbosch betrokke geraak, toe hulle in die Boland B-Liga gespeel het. In net vyf jaar het die Akademie die Hoërskool Stellenbosch gehelp om sy tennisstandaard te verbeter tot waar hy vanjaar die nasionale kampioen is.
Dit word as werklik merkwaardig beskou dat só ?n ommeswaai in ?n skool se tennis plaasvind.
"Dit is vir die Spier Tennis Akademie 'n voorreg om by skole betrokke te wees en die Akademie weet dat dit net die begin is van nog vele groot gebeurtenisse in Suid-Afrikaanse tennis," sê Norval.
"Stellies" het ook hul dankbaarheid teenoor Seeff uitgespreek, wat hul kleredrag geborg het.