STELLENBOSCH bly ná meer as drie eeue 'n dorp van erge kontraste.
Terwyl ons vandeesweek die totstandkoming van ?n Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NITheP) saam met die wêreld se bekendste wetenskaplike Stephen Hawking en ander uitgelese fisici kan vier, is armoede, siektes en gebrekkige behuising en infrastruktuur die ander kant van dieselde dorpsmunt.
Dankbaar is ons vir die voorreg om 'n instelling op die dorp te kan huisves waar teoretiese fisici oplossings kan soek vir die probleme wat Afrika teister.
Dankbaar ook vir top deskundiges en Nobelpryswenners wat hier lesings kom hou en navorsing doen. Ook hulle is gefokus op oplossings vir die geweldige vraagstukke wat hierdie vasteland en die res van die wêreld in die gesig staar.
Dankbaar is ieder en 'n elk vir die regering se ondersteuning ? finansieel en andersins ? van so ?n waardevolle instelling soos die NITheP.
En dit op Stellenbosch, 'n dorp wat deur talle in die nuwe bedeling steeds as die bakermat van apartheid beskou word
Die minister van Wetenskap en Tegnologie het in sy gelukwensing?e aan die NITheP gesê hy hoop dié sentrum bied geleenthede en fasiliteite aan diegene wat "'n verskil aan die mensdom kan maak".
Ook ons, die inwoners van Stellenbosch, vestig ons hoop op akademiese instellings soos dié om oplossings vir ellendes ? plaaslik en internasionaal ? te bring. Verkeersprobleme, goedkoper brandstof, goedkoop maar gehalte-behuising vir armes, om net 'n paar van die dringende vraagstukke te noem waarmee ons dorp ook tans worstel.
'n Sentrum van voortreflikheid. Maar dikwels is universiteite en ander akademiese instellings soos eilande van voortreflikheid in 'n see van swaarkry en ellende.
Mag die NITheP en ander instellings by die Stellenbosch Instituut vir Gevorderde Studie (Stias) nie net hul kreatiewe denke ook aanwend om kreatiewe oplossings te vind vir probleme hier te lande. So word akademiese instellings toenemend deel van hul onmiddellike omgewing.