Bekommerde inwoner van Stellenbosch skryf:
Ek stap gereeld. Tydens 'n onlangse naweek het ek twee oggende ná mekaar gaan stap. Die eerste oggend is ek in Martinsonstraat op, verby Lanzarac, en het die pad na Jonkershoek Natuurreservaat gevolg. Ek kon duidelik sien hoe mooi die Munisipaliteit die sypaadjies gesny en skoongemaak het. Dit het pragtig gelyk!
Maar tot my skaamte moes ek sien hoe ons as inwoners mors. Ek het begin optel. Die meeste daarvan was leë wyn- en bierbottels, gevolg deur lekkergoed- en skyfie-papiere. Hier en daar was daar 'n sak vol goed wat seker uit 'n voertuig na buite geslinger is.
Die volgende oggend stap ek in Uniepark en sowaar, daar lyk dit nie veel beter nie. Leë bottels, sakke, kitskoshouers en oopgeskeurde vullissakke lê rond.
Ek is baie lief vir Stellenbosch en wil nie emigreer nie, maar ek gaan ook nie op 'n ashoop bly en eendag vir my kinders foto's wys van hoe mooi Stellenbosch lank gelede was nie.
Ek daag elke ouer uit om ernstig met hul kinders oor die rondstrooi van rommel te gesels en dan sommer voor hul eie deur ook te vee.
A nee a! Ons is beter as dit!