DIE argitektoniese meesterstuk op 'n granietkoppie by die ingang na Jamestown, is pas vernuwe en stylvol ingerig as kuierplek vir die inwoners van la Clémence.
Die eet- en sosiale bymekaarkomplek van la Clémence, la Société, was die eertydse huis van die bekende meesterbouer, Basil Williams, en sy gesin.
Dit is deur Arthur Black (1931 ? 2007) van die argiteksfirma Munnik, Visser, Black en Fish ontwerp en is in 1969 op granietrotse gebou. Dit het 'n uitsig op die Stellenboschberge.
Die huis is destyds deur BL Williams Construc?tion gebou en die opknappingswerk is ook deur dié 58 jaar oue maatskappy onderneem. Die firma word nou deur Basil Williams se seuns, Howard en Richard, bestuur.
Die Williams-broers en Dennis Moss-vennootskap het met groot sorg dieselfde binne-afwerking gehandhaaf, ook waar nuwe vertrekke in 'n soortgelyke styl bygevoeg is. Oregan is vir die nuwe plafonne gebruik.
Gaan 'n mens die huis binne, voel dit steeds of jy in die ruim sitkamers van die Williamsgesin gaan kuier. Mev. Cecilia Wil?liams het inderdaad onlangs opgemerk dat sy tevrede is met die veranderings en dat dit vir haar baie mooi is. Dit is nogal 'n pluimpie, komende van iemand wat vir bykans 40 jaar in haar "huis op rots gebou" gewoon het.
Die vier slaapkamers met hul uitsig op die berge het plek gemaak vir ?n ruim en gerieflike eetsalon. Die mure is verwyder sonder om die groot houtvensters te verander. Dit lyk of dit maar altyd so kon gewees het en die groot, moderne kombuis is onopvallend.
Een van die besonder vindingryke veranderings was aan die reuse-swembad, wat nou sowat een derde van die oorspronklike grootte is. ?n Bykomende sitkamer met ?n braaiplek en met glasvensters soortgelyk aan dié van die ander sitkamers, volg die lyne van die grootste deel van die ou swembad.
Onder die sitkamer, in die diep maag van die ou swembad, is daar nou ?n knus private braaikamer en kuierplek.
Die afwerking van die buitemure is dieselfde as dié van die oorspronklike gebou, naamlik ?n grys sementlaag oor ongepleisterde mure.