DIE wynbedryf het nou meer as ooit tevore kundige bestuur nodig om bemarkingskanale doeltreffend te ontwikkel en uit te bou.
Só sê me. Willemien Law, bemarkingshoof van USB-Bestuursontwikkeling (USB-BO). Die USB-BO bied nou 'n program in wynbestuur aan.
Law glo dat sommige oorsese lande Suid-Afrika ver voor is met wynbemarking. Boonop word heelwat wynkundigheid aan ander dele van die wêreld afgestaan. As teenvoeter behoort Suid-Afrika te fokus op die ontwikkeling van wêreldgehalte wyn-instellings met uitstaande bestuurskundigheid. Só kan die land bedrewenheid lok en sy posisie as 'n vooraanstaande kundige van wynbestuur uitbou.
Wyn is deesdae 'n kommoditeit. Die groot uitdaging vir die wynbedryf is om dié kommoditeit 'n identiteit en tuiste in die Suid-Afrikaanse opset te gee, asook om die plaaslike wynverbruik te verhoog.
Hiervoor is beter bestuursvaardighede nodig om veranderende doelwitte te identifiseer en oplossings te vind.
Die program in wynbestuur word vanaf Junie 2008 tot Julie 2009 by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool as 'n reeks modules aangebied.
Suksesvolle deelnemers verwerf twee sertifikate: een in wynbestuur en een in projekbestuur. Die program maak ook voorsiening vir mense wat net spesifieke modules wil volg.
Die program is gemik op middelvlak- en senior bestuurders in die wynbedryf of ondersteunende bedrywe.
Die programinhoud behels die ontwikkeling van 'n strategiese visie, die toepassing van 'n doeltreffende bemarkingstrategie, finansiële beheer en besluitneming, die bestuur van menslike kapitaal, asook die ekonomie en die bestuur van wingerdbou en wynkunde.
Bel me. Arina Basson by 021 918 4472 of e-pos arina.basson@usb-ed.com met navrae.