MET die stegie as openbare deurgang het hulle nie ’n probleem nie.
Waarmee verskeie inwoners in Visagie- en Barnardstraat in Monte Vista egter stoei, is dat hierdie stegie eerder gebruik word as wegkruipplek vir inbrekers, dophou-plek vir kwaaddoen, of drink- en ontlastingplek.
Dis oor naweke wanneer dronkes daar lê en drink, rondlopers die kans benut om oor huismure te loer en nog meer vandale op die mure skribbel sê mev. Riana Beukes wat al sedert 2004 saam met haar gesin naby die stegie bly.
“Ons probleem is, maak die tipe publiek wat die deurgang gebruik nie saak nie,” sê sy. “Dis tog duidelik dat die gemorsery in die stegie en die geskribbel op die mure nie deur inwoners in die gebied gedoen word wat net die stegie gebruik om deur te stap nie. Daarmee het nie ek of my bure ’n probleem nie.”
Beukes is deeglik bewus van elke kwaaddoen. Die afgelope tyd alleen was daar die klip wat deur hul huis se ruit gegooi is, ’n kind wie se selfoon in die stegie gesteel is, duur kameratoerusting wat uit mense se voertuig reg voor hul huis gesteel is ... “Daardie dief het ook in die stegie geskuil, hulle dopgehou en weer deur die stegie weggehardloop,” sê Beukes.
Op 4 April 2007 het Beukes formeel aansoek gedoen dat hulle dié stegie huur en ’n deel toemaak vir tuinmaak- en sekuriteitsredes. Hulle het ook foto’s verskaf van hoe dit daar lyk en saaknommers van misdaadvoorvalle, maar vandag het hulle steeds nie antwoorde nie, vertel sy.
Maar wat sê die stadsraad hieroor?
Me. Ruby Gelderbloem, die raad se direkteur van eiendomdienste, bevestig Beukes se aansoek is ontvang en deur die stadsraad se verskeie interne dienstakke gesirkuleer vir kommentaar. “Op 19 Oktober 2007 het die departement beplanning en ontwikkelingsbestuur aangedui hulle steun nie die aansoek nie omdat dit ’n publieke deurgangsroete is tussen die woonbuurte Edgemead en Monte Vista.” Om dieselfde rede het die afdeling geboueontwikkeling op 23 Mei vanjaar bevestig hulle steun ook nie die aansoek nie, sê Gelderbloem.
Die standpunt is dat die grond “nie net die belange van die aangrensende huiseienaars dien nie, maar die gemeenskap in sy geheel”.
Volgens Gelderbloem sal die departement beplanning en ontwikkelingsbestuur onder meer ’n verslag opstel en aan die De Grendel-subraad 3 voorlê sodat hulle die aansoek kan oorweeg. Aanbevelings van die departement eiendomsdienste sal ook voorgelê word.
Dit subraad kan die aanbevelings goed- of afkeur en kan die verslag ook terugverwys na die departement eiendomsdienste indien dit nodig geag word.
Indien die subraad die huur van die land goedkeur, sal daar onder meer ’n groot publieke deelnameproses wees. Die aansoeker moet alle koste dra.
Dit is goed en wel dat die raad die reg het om die aansoek goed of af te keur, sê Beukes. Maar wat van omliggende inwoners se veiligheid. “Dis ons reg ook om hulle aanspreeklik te hou vir enigiets wat met ons of ons kinders gebeur, weens die misdadige elemente wat só toegang tot ons huise kan kry.”