MET rose en kersies het vriende en familie van me. Rosemarie Vosloo Vrydag afskeid geneem van ’n “geliefde vriendin, dogter, suster en ma”.
Die roudiens vir Vosloo, ’n eiendomsagent van Brackenfell, het Vrydagoggend in die Heidekoppie-gemeente in Protea Hoogte plaas?gevind.
Dit kom nadat Vosloo verlede Maandagoggend in die Durbanville-hospitaal aan haar wonde beswyk het nadat sy verlede Sondag vier keer geskiet is. Vosloo was besig om ’n huis in Protea Hoogte te skou toe sy aangeval is.
Haar gewese man, mnr. Johannes Archer, is vir die moord op Vosloo in hegtenis geneem toe hy hom later na bewering aan die polisie oorgegee het.
Snikke het Vrydagoggend in die kerk weerklink to ds. Rudi van Vuuren ook vir Archer in sy gebede genoem het. Van Vuuren het in sy preek gesê Vosloo se dood is ’n hoofstuk wat toegemaak word en miskien ’n nuwe lewe vir party. Hy het gesê daar is só baie vrae waarvoor niemand antwoorde het nie. “Dis oraait om seer te wees en die vrae te vra ... maar ek mag nie toelaat dat dié gebroke wêreld my lewe oorneem nie.”
Familie en vriende het daarna huldeblyke aan Vosloo gelewer.
“Sy is wreed van ons weggeneem, maar ons gun haar nou die vryheid,” het me. Lourensa Loubser, ’n vriendin van Vosloo, Vrydagoggend tydens ’n huldeblyk gesê.
Loubser het verder gesê Vosloo se kinders was altyd haar eerste prioriteit. “Sy het in die reën langs die rugbyveld gestaan om vir Reinard te ondersteun en het self die spykers ingekap by Rozel se kunsuitstallings.”
Vosloo se dogter, Rozel, het gesê een woord beskryf haar ma baie goed. “Dit is vryheid en ná 44 jaar het sy dit uiteindelik gevind.”
Haar seun, Reinhard, het gesê hulle het nie net ’n ma verloor nie, maar ook ’n beste vriendin.
“Sy het by ons gestaan deur moeilik en sleg, lag en trane. Ons sal altyd lief bly vir haar, ma was die beste.”
Die roudiens is afgesluit met ’n vertoning van foto’s van Vosloo.
Vosloo is privaat veras.
Me. Maureen Nel, Pam Golding Eiendomme se direkteur en bestuurder van die noordelike voorstede, het intussen gesê Vosloo se kollegas by Pam Golding is steeds getraumatiseerd ná wat gebeur het. “Ons gedagtes is by haar kinders en familie,” het Nel gesê.
. Archer verskyn weer môre (Donderdag) in die Blue Downs-landdroshof. Hy sal na verwagting aansoek doen om borgtog.