'n Bejaarde inwoner van Sandbaai is verlede Vrydagoggend omstreeks 10:30 deur 'n man by die stopstraat by die Engen garage in Hoofweg in Sandbaai voorgekeer.
Sy was op pad huis toe nadat sy inkopies by die plaasstalletjie gedoen het. Die man het na haar welsyn verneem en toe oor sy maag gevryf om aan te dui dat hy honger is. Die 75-jarige weduwee het verduidelik dat sy hom nie kan help nie en hy gryp toe haar inkopiesak en hardloop daarmee weg in die rigting van die R43.
Rita Oliver, 'n gewese polisiebeampte, het verbygery toe sy twee mans sien hardloop en onmiddellik gestop en die weduwee gehelp. Dit was erg emosioneel, toe ek haar baadjie losmaak kon ek sien hoe hard die aanvaller haar gestamp het, want haar selfoon het in haar klere vasgesit.
Die man wat die aanvaller agterna gesit het, Clive Mbetane (34) is 'n kontrakwerker by die Golden Harvest aftreeoord. Hy was op pad Golden Harvest toe met die hoofsjef, wat onmiddellik van die pad afgetrek het toe hulle sien wat aan die gebeur is.
Die aanvaller het die inkopiesak neergegooi toe hy sien dat hy agtervolg word. Toe ek bo-op hom is het hy 'n yslike mes te voorskyn gebring, vertel Clive en hy moes noodgedwonge terugdeins.
Die polisie was gou op die toneel maar die aanvaller het weggekom.
Rita vertel dat Clive die weduwee omhels het toe hy haar inkopiesak aan haar oorhandig het en dat hy haar om verskoning gevra het vir die optrede van die aanvaller.
Die slagoffer het haar elmboog stukkend geval en haar knie is steeds geswel na die aanval. Sy is erg getraumatiseer en wil ander bejaardes waarsku om meer paraat te wees. Die man het gesoek vir 'n maklike sent of twee en toe is ek sy prooi.
Die weduwee spreek haar waardering uit teenoor almal wat haar te hulp gesnel het.