Die Stanfordse rugbyspan het Saterdag op Arniston vir Sea Hawks net-net met 7-3 geklop nadat dit ook die rustydtelling was.
Linton Swartland van die besoekers het die enigste drie in die 10de minuut gaan druk wat Eben Cornelius verdoel het. Die Stanforders het soos Trojane verdedig en kan goed voel dat dié aspek van hul spel verbeter het. Die span beklee tans die boonste plek op die punteleer en is nog onoorwonne na vier wedstryde in die tweede rondte. Die enigste keer toe die span vasgeval het was op Kleinmond met 5-3. Dié herontmoeting is die laaste wedstryd van die ligaver-pligtinge op Stanford.
Die Stanford span het naelskraapse oorwinnings behaal, maar soos vroeg in die siesoen gemeld, is 'n wen 'n wen.
Hier volg die span se tweede rondte uitslae: klop Villiersdorp weg 20-19; klop Riviersonderend weg 9-6; klop Prim Roses tuis 22-14; klop Sea Hawks weg 7-3. Die klub se bestuur en van die spelers is baie teleurgesteld in van die jonger manne wat hul belangstelling in rugby verloor het en net eenvoudig wegbly van wedstryde en oefeninge, nadat beide die B-span en C-span die tweede plek op die punteleer beklee het. Die groot vraag wat egter ontstaan, is hoe gaan Stanford se rugby na drie of vier jaar lyk?
Die groot mense op die dorp moet nader staan en die jonger spelers positief aanmoedig. Hou op kritiseer van buite af en kom help met die spelers.
Universals Rugbyklub is dié dorp se trots. Die klub vier volgende jaar sy 110de bestaansjaar en almal word genooi om 'n bydrae te lewer.
Vrydag, 18 Julie, hou Universals 'n pannekoek en sop aand om 19:00 te Arizona Park. Saterdag het Universals 'n loslootjie en daar is besluit om 'n car wash-dag te hou vanaf 09:00. So bring u voertuig asseblief en kry 'n goeie diens vir net R30 per voertuig.